AfriForum stuur veldtog van stapel ter bewusmaking van gestremdes se probleme

 

AfriForum het met ’n veldtog begin om die publiek bewus van gestremde persone te maak, spesifiek oor die probleme waarmee gestremdes by winkelsentrums gekonfronteer word.
Stef Potgieter, AfriForum se hoof vir sake gemoeid met bejaardes en gestremdes, sê dat parkering by winkelsentrums ’n groot probleem vir mense in rolstoele is. Hy sê dat parkering vir gestremde persone groter as gewone parkering moet wees sodat daar spasie vir die persoon in die rolstoel is om sy of haar stoel uit die motor te haal.
Volgens Potgieter, wat self in ’n rolstoel is, bly meeste winkelsentrums in gebreke om die bouregulasies soos gepubliseer deur die Suid-Afrikaanse Buro vir Standaarde na te kom. Volgens dié regulasies moet ’n rolstoelparkeergleuf een meter breër as ’n normale parkering wees.

“Meeste winkelsentrums het óf geen gestremde parkering nie of hulle verf net ’n gewone grootte parkering geel en sit ’n rolstoelteken daarop wat dit vir die gestremde persoon onmoontlik maak om daar te parkeer. By die meerderheid winkelsentrums is daar ook nie genoeg gestremde parkering nie,” sê Potgieter.

Hy sê verder dat daar nie genoeg beheer by winkelsentrums toegepas word nie omdat dit gereeld gebeur dat bestuurders wat nie in rolstoele is nie die gestremde parkerings misbruik oor dit gewoonlik naby die ingange geleë is.
AfriForum doen ’n beroep op die publiek om ons te laat weet van winkelsentrums waar hierdie probleme geïdentifiseer kan word. Stuur ’n e-pos na afriforum@afriforum.co.za met “Rolstoelparkering” as die onderwerp.

Soortgelyke plasings