| |

AfriForum stuur Wes-Kaapse immuunstelsel-inisiatief in samewerking met Solidariteit Helpende Hand van stapel

Die burgerregteorganisasie AfriForum het op 7 Mei 2020 sy Wes-Kaapse immuunstelsel-inisiatief in samewerking met Solidariteit Helpende Hand in die Kaapse metropool en die Overstrand van stapel gestuur waartydens verskeie ouetehuise in die noordelike voorstede van Kaapstad nartjies ontvang het. AfriForum het hierdie inisiatief reeds in ander provinsies in Suid-Afrika ook van stapel gestuur.

“Met hierdie inisiatief wil ons mense bewus maak van die voordele wat vitamien C vir jou immuunstelsel inhou. Ons het besluit om op bejaardes te fokus, aangesien hulle die kwesbaarste persone is om COVID-19 op te doen en moeilik van die virus herstel,” sê Deon de Jager, AfriForum se hoof van gemeenskapstrukture vir die suidstreek.

In die metropool is ouetehuise in Bellville, Durbanville en Kraaifontein besoek en daar is ook by ouetehuise in die Overstrand nartjies afgelewer. AfriForum beplan om hierdie inisiatief binne sy beskikbare middele na ander voorstede in die metropool, asook ander dorpe in die provinsie uit te brei.

Dr. Eugene Brink, hoof van gesondheid by AfriForum, sê hierdie inisiatief help om gesondheid en immuniteit in gemeenskappe te bevorder in ’n tyd wat dit broodnodig is. “Die winter lê nou voor en daarom wil ons help dat weerlose mense se immuunstelsel sterk bly. Ons het ook soortgelyke skenkings van sitrus in die noorde van die land ontvang en doen ’n beroep op ander produsente om ook skenkings te maak.”

Hierdie inisiatief is moontlik gemaak deur ruim skenkings wat vanuit die Langeberg-distrik ontvang is.

Raak vandag nog by hierdie projek betrokke: Stuur ’n e-pos na deon.dejager@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings