AfriForum-suksesse: April 2019

NOORDSTREEK

LIMPOPO

Phalaborwa

  • AfriForum se Phalaborwa-tak het stoptekens aan die paaie-afdeling van die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit oorhandig met die doel om padveiligheid in die dorp op te skerp. Hierdie nuwe tekens gaan regoor die dorp aangebring word waar stoptekens verbleik, gevandaliseer of vermis is.

Thabazimbi

  • AfriForum het ’n buurtwag in die Thabazimbi-gebied gestig. Die Matlabas-Wes-buurtwag is gestig met die doel om veiligheid in die gebied te verbeter en die gemeenskap met die regte gereedskap toe te rus om hulle omgewing in samewerking met die SAPD te beveilig.

GAUTENG

  • AfriForum het Projek Nehemia-opleiding aan lede van sowel die Groter Pretoria-omgewing as Wes-Randse buurtwagte aangebied. Projek Nehemia is ’n strategie teen geweldmisdaad. Projek Nehemia se bevelsgroep het tydens dié opleiding verskeie veiligheidsmodules met die Groter Pretoria- en Wes-Rand-buurtwagte behandel met die doel om misdaad in hierdie omgewing te bekamp en gemeenskapslede by te staan en weerbaar te maak. Die modules het bevel-en-beheer, gebiedsbeskerming, regsaspekte, huis-en-haard-beskerming, die bedryf van inligting en slagofferondersteuning ingesluit.
  • Ongeveer 55 lede van AfriForum se buurtwagte in Alberton, Brakpan, Germiston en Springs het opleiding in skarebeheer en radioprosedure ontvang.
  • AfriForum se Oos-Rand-takke het skriftelike kommentaar ingedien tydens die City of Ekurhuleni (CoE) se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP)-vergaderings.

Vanderbijlpark

  • AfriForum se Vanderbijlpark-tak het die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas oor swak vullisverwydering in die gebied deur ’n skrywe aan die munisipaliteit te oorhandig.

Roodepoort

  • Die AfriForum-tak in Roodepoort het tyd by Ons Huis, ’n tehuis vir bejaardes in Florida, deurgebring.

Westonaria

  • Die AfriForum-tak in Westonaria het in samewerking met gemeenskapslede kabeldiewe se planne in die wiele gery danksy spoedige reaksie.

Meyerspark

  • Die Meyerspark-tak het die afgelope maand in die gemeenskap gewoeker waar hulle saam met die plaaslike raadslid gewerk en gesorg het dat ’n onwettige kragkoppeling afgesny is. Die tak het ook ’n muur herstel wat onlangs beskadig is.

Kempton Park

  • AfriForum se Kempton Park-buurtwag het bystand aan die SAPD gebied tydens ’n operasie waartydens twee suksesvolle arrestasies gemaak is.
  • AfriForum se Kempton Park-buurtwag het ondersteuning aan sekuriteitsmaatskappye verleen tydens die beveiliging van ’n toneel waar ’n gewapende roof plaasgevind het.

Alberton

  • AfriForum se Alberton-protospan het verskeie gereedheidsinoefeninge op ’n plaas buite Walkerville uitgevoer.
  • Die AfriForum-buurtwag in Alberton het bystand aan die gemeenskap gebied tydens swaar reën en hael wat groot skade in dié omgewing veroorsaak het.
  • AfriForum se Alberton-buurtwag het bystand gebied tydens die opsporing van ’n vermiste 13-jarige kind.

Brakpan

  • AfriForum se Brakpan-tak het ’n herhaler ontvang ter uitbreiding van dié dorp se kommunikasie- en veiligheidsnetwerk.

Edenvale

  • AfriForum se Edenvale-buurtwag het in samewerking met die SAPD beslag gelê op sewe blokke kokaïne en kontant, terwyl drie verdagtes ook gearresteer is.

Oos-Moot

  • AfriForum se Oos-Moot-buurtwag, wat aan die Waverley-tak verbonde is, het ’n sinkronisasie-operasie uitgevoer. Dit was dié buurtwag se eerste grootskaalse operasie bo en behalwe kleiner patrollies wat reeds gehou is.
  • AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het onlangs by die spruit op die hoek van 30ste en Cunninghamlaan bymekaar gekom om ’n reuse-ontbossingsaksie van stapel te stuur. Die doel van die dag was eenvoudig – die gemeenskap wou bymekaarkom om die gebied veiliger te maak. AfriForum se Oos-Moot-buurtwag is ’n inisiatief van die organisasie se Waverley-tak en funksioneer as die veiligheidsbeen van dié tak.

Waverley

  • Die burgerregte-organisasie AfriForum het ’n buurtwag in die Waverley-omgewing in Pretoria gestig. Dié nuwe buurtwag is spesifiek toegespits op woonbuurte wat binne die Villieria-polisiestasie se bedieningsgebied val en hulle het reeds hul eie radionetwerk.
  • AfriForum se Waverley-tak, ’n paar lede van AfriForum Jeug en die nuwe buurtwag het bymekaar gekom om gedeeltes van die spruit in dié gebied skoon te maak en boomtakke af te saag en te verwyder. Dié aksie is van stapel gestuur omdat sluipslapers langs die spruit wegkruip. Tydens patrollies belemmer die lang gras ook sigbaarheid rondom die spruit.

MPUMALANGA

  • AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga het gehelp om ’n gesteelde voertuig op te spoor na gelang van informasie wat ontvang is.
  • Die AfriForum-buurtwagte in Piet Retief, Standerton, Teks (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda), Delmas, Eloff, Argent, Witrivier, Machadodorp en Middelburg het ’n massapatrollie saam die SAPD gehou om sigbaarheid te verhoog en misdaad te bekamp.

Witrivier

  • AfriForum se Witrivier-buurtwag het ’n projek by die Witrivier-polisiestasie voltooi. Die projek verseker veilige aflaaiplek vir vangwaens sodat gevangenes nie kan ontsnap nie.

Nelspruit

  • AfriForum se Cairn-Burnside-plaaswag het ’n sigbaarheidsaksie by die Cairn-ingang geloods.
  • AfriForum se Nelspruit-tak het ’n suksesvolle selfdoenprojek by die Pro Gratia Skool voortgesit.

Bethal

  • Bethal se AfriForum-tak het ’n suksesvolle selfdoenprojek voltooi deur slaggate in Kleijnhans- en Malherbestraat, asook in Tsibitso Sibanoynistraat op te vul. Daar is tot dusver alreeds 500 sakke teer gebruik om strate op te knap.
  • Bethal se AfriForum-tak het gras oorkant die ou Nestlé-gebou en die plaaslike polisiestasie gesny.
  • Bethal se AfriForum-tak het ’n kontrakteur aangestel om asblikke in die sentrale sakekern leeg te maak.
  • AfriForum se Bethal-tak het ’n algemene jaarvergadering vir besigheidseienaars gehou om hulle insae te kry met betrekking tot die projekte wat aangepak is.

Machadodorp

  • Machadodorp se AfriForum-buurtwag het bystand gebied ná ’n plaasaanval.

Piet Retief

  • AfriForum se Piet Retief-tak het ’n petisie van stapel gestuur rakende die misbruik van drank in openbare parke.

Standerton    

  • AfriForum se Standerton-buurtwag het hulp aan sekuriteitsmaatskappye verleen.
  • AfriForum se Standerton-tak het onwettige visnette in die Vaalrivier verwyder.

Teks (Trichardt, Evander, Kinross en Secunda)

  • AfriForum se Teks-tak het gehelp om groenstroke skoon te maak en gras te sny.
  • AfriForum se Teks-buurtwag het op ongelukstonele uitgehelp deur die verkeer te reguleer.

Delmas 

  • AfriForum se Delmas-tak het hulp aan ouetehuise verleen deur geisers te vervang.

Witbank

  • AfriForum se Witbank-tak het fase 2 van hulle padveiligheidsprojek voor skole voltooi en die projek afgesluit met ’n bedrag van oor die R65 000.

SENTRAALSTREEK

NOORDWES

  • Die AfriForum-takke in die Tswaing-gebied het druk op Eskom geplaas om krag in die provinsie aan te hou.

Vryburg

  • Die AfriForum-tak in Vryburg het saam met jeuglede boomtakke afgesaag wat voor stoptekens gehang het.
  • Die AfriForum-tak in Vryburg het onderdele aan die Naledi Plaaslike Munisipaliteit voorsien om ’n voertuig te herstel om sodoende water- en rioollekkasies reg te maak.
  • Die AfriForum-tak in Vryburg het ’n skrywe aan die provinsiale hoofde van die SAPD in Noordwes gerig oor ’n tekort aan voertuie vir die K9-eenheid. Slegs twee voertuie word hiervoor beskikbaar gestel.
  • Die AfriForum-buurtwag in Vryburg het ’n groot gemeenskapsvergadering gehou waar sowel die nuwe rigting wat die buurtwag gaan inslaan as die noodplan bespreek is.

Christiana

  • Die AfriForum-buurtwag in Christiana het ’n skietkompetisie gehou.

Hertzogville

  • Die AfriForum-tak in Hertzogville het druk op Eskom geplaas om waterpompe se krag aan te skakel, terwyl hulle ook druk op die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit uitgeoefen het om die kragtoevoer te herstel om water te pomp.

Delareyville

  • Die AfriForum-buurtwag in Delareyville het saam met die polisie en sekuriteitsdienste deurnag patrollie gehou.

Biesiesvlei

  • Die AfriForum-buurtwag in Biesiesvlei het vermeende aanvallers danksy hulle hoë sigbaarheid verdryf en later die arrestasies in Lichtenburg gemaak.

Schweizer-Reneke

  • Die AfriForum-tak in Schweizer Reneke het ’n winterprojek geloods waar komberse, klere en kos vir behoeftige kinders ingesamel en aan hulle oorhandig is.


VRYSTAAT

Bethlehem

  • Die AfriForum-tak in Bethlehem het GOP-opleiding vir die gemeenskap aangebied. Die opleiding het behels dat die gemeenskap verstaan hoe die begroting van die munisipaliteit werk en watter insae die gemeenskap hierop kan lewer. Die gemeenskap het dus nou beter kennis oor hoe munisipale begrotings lyk.

Kroonstad

  • AfriForum het ’n takstigtingsvergadering in Kroonstad gehou. Ná ’n groot aanvraag van die gemeenskap is ’n AfriForum-tak in Kroonstad gestig. 85 lede van die gemeenskap het die vergadering bygewoon.

Harrismith

  • AfriForum se Harrismith-tak het die maand afgeskop met die herstel van slaggate. Dié projek was hoofsaaklik gemik op Wardenstraat, die dorp se hoofstraat, omdat slaggate daar ’n ernstige veiligheidsrisiko ingehou het. Die tak het 2 750 kg se teer gebruik om 105 slaggate op te vul. Die tak sal voortgaan om sulke tipe projekte aan te pak en die algehele toestand van die paaie te verbeter.

Bultfontein

  • AfriForum se Bultfontein-tak en -buurtwag het gehelp om twee verdagtes te arresteer. Dié verdagtes is in verband met huisbrake in hegtenis geneem. ’n Gemeenskapslid het die buurtwag op die noodgroep in kennis gestel dat ’n huis se alarm afgegaan het, waarna die buurtwag na die toneel ontbied en die verdagtes binne minute in hegtenis geneem is. Die verdagtes is danksy puik skakeling tussen die gemeenskap, buurtwag en die polisie vasgetrek. AfriForum se Bultfontein-tak en -buurtwag sal aanhou om gemeenskapsveiligheid te verseker.

Welkom

  • AfriForum se Welkom-tak en Sandrivier-buurtwag het opleiding ontvang. Die opleiding het oor verskeie veiligheidsmodules gehandel en die gemeenskap was in groot getalle hierby betrokke.

KWAZULU-NATAL

  • Die AfriForum-takke in KwaZulu-Natal het verskeie proaktiewe patrollies in hul onderskeie gemeenskappe gehou om sigbaarheid te verhoog, waaronder in Margate, Hluhluwe, Pongola, Vryheid en Paulpietersburg.

Newcastle

  • AfriForum se Newcastle-tak het die gemeenskap teen hoë eiendomswaardasies gemobiliseer.

Vryheid

  • AfriForum se Vryheid-tak het patrollie gehou tydens die marathon om deelnemers se veiligheid te verseker.
  • AfriForum se Vryheid-tak het gehelp om ’n brandende gebou te blus.
  • AfriForum se Vryheid-tak het verskeie padkruisings geverf om padveiligheid te bevorder.
  • AfriForum se Vryheid-tak het ’n stalletjie by die Paasmarkdag beman.
  • AfriForum se Vryheid-tak het ’n veiligheidbekendstellingsaand by die gemeenskapsentrum gehou.

Margate

  • AfriForum se Margate-tak se noodboorgat het water aan die gemeenskap voorsien tydens watertekorte.
  • AfriForum se Margate-tak se jeugvleuel het strande skoongemaak.
  • AfriForum se Margate-tak het hulp in hul gemeenskappe aangebied tydens die onlangse oorstromings.
  • AfriForum se Margate-tak het beswaar teen hoë watertariewe aangeteken.

Hluhluwe

  • AfriForum se Hluhluwe-tak het verskeie operasies saam met die SAPD uitgevoer.

Richardsbaai

  • AfriForum se Richardsbaai-tak het gehelp om ’n vermeende hamermoordenaar te arresteer.

Pongola

  • AfriForum se Pongola-tak het verskeie suksesse behaal om gesteelde voertuie op te spoor.

Paulpietersburg

  • AfriForum se Paulpietersburg-tak het druk op die munisipaliteit geplaas om onwettige grondbesetters te stop.
  • AfriForum se Paulpietersburg-tak het opleiding in basiese noodhulp aan meer as 50 gemeenskapslede gebied.

SUIDSTREEK

NOORD-KAAP

Kuruman

  • AfriForum se Kuruman-tak se jeugvleuel het Die Oog skoongemaak en die nodige herstelwerk in die dorp gedoen.

Kathu

  • AfriForum se Kathu-tak het Paaseiers tydens Paasnaweek uitgedeel om bewusmaking te bevorder.

Upington

  • AfriForum se Upington-tak het ’n teenboelieveldtog by verskeie skole in die dorp aangebied.

Vaalharts

  • AfriForum se Vaalharts-tak het danksy die nodige druk op die provinsiale kantore help toesien dat padtekens buite Hartswater opgerig word.
  • AfriForum se Vaalharts-tak het die poskantoor se netheid en veiligheid help opskerp.

OOS-KAAP

Patensie

  • Die AfriForum-tak is deur die boerevereniging in die Gamtoosvallei gevra om ’n omvattende veiligheidsbestekopname te doen en met ’n goed deurdagte en werkbare plan vorendag te kom. Die voorsitter van die veiligheidskomitee het die uitdaging aanvaar en planne vorder goed.

Aliwal-Noord

  • AfriForum se Aliwal-Noord-tak het 50 sakke Super 18-voermengsel aan boere in Aberdeen geskenk.
  • AfriForum se Aliwal-Noord-tak het met die Walter Sisulu Plaaslike Munisipaliteit se bestuur vergader en die begroting voorgelê.

WES-KAAP

  • AfriForum se takke in die Boland het gedurende Aprilmaand ’n werkswinkel oor munisipale eiendomswaardasies bygewoon, asook ’n werkswinkel wat handel oor takke se deelname aan die hersieningsproses van hul onderskeie munisipaliteite se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP). Dié werkswinkel is deur Frik Mulder, ’n onafhanklike konsultant en kundige in plaaslikeregeringsake, in Bellville aangebied. Mulder het tydens die werkswinkel meer agtergrond gegee oor die proses wat waardeerders gebruik om munisipale waardasies van eiendomme aan te pas. Hy het die takbesture ook opgelei om beswarende kommentaar daarop te formuleer en te verfyn.

 Helderbergkom

  • Die jeugvleuel van AfriForum se Helderbergkom-tak het die kinders van Ons Plek-sentrum in die Strand besoek. Maresa Visser, voorsitter van die jeugvleuel van AfriForum se Helderbergkom-tak, het besluit om uit te reik na die behoeftige kinders van dié sentrum, wat deur Solidariteit Helpende Hand geadministreer word.

 Oudtshoorn

  • AfriForum se Oudtshoorn-tak het opvolggesprekke met die plaaslike munisipale bestuur gehad rakende die krisis op hande waar binnegevegte dreig om munisipale funksionering lam te lê. Verder het volgehoue druk vanuit AfriForum-geledere daartoe gelei dat daar nou uiteindelik begin is om die vullisterrein te omhein.

Hessekwa

  • AfriForum se Hessekwa-tak het ’n veiligheids- en inligtingsvergadering in Albertinia se stadsaal gehou. Die gemeenskap is oor die veiligheidsituasie landwyd ingelig en waarom inwoners kan verwag dat veiligheid in die Suid-Kaap in die toekoms onder druk gaan kom. Verder is hulle verseker dat AfriForum oor die kundigheid en wilskrag beskik om ’n gemeenskap op elke terrein op ’n volhoubare manier te versterk.

Soortgelyke plasings