AfriForum-suksesse: Januarie 2019

NOORDSTREEK

 LIMPOPO

Naboomspruit

  • AfriForum se Naboomspruit-tak het ’n projek gedryf om dié dorp weer mooi te maak. Die tak het by al vier die ingange na die dorp groot nabome geplant en die potte waarin dit geplant is nuut oorgeverf. Verder het die tak ook slaggate in die dorp opgevul wat deel vorm van hulle slaggatprojek. Die tak het ook parte aangekoop vir ’n waterpomp wat gebreek het as gevolg van swak instandhouding deur die munisipaliteit.

 GAUTENG

 Midvaal

  • AfriForum se Midvaal-tak het tot padveiligheid bygedra en stoptekens in samewerking met Midvaal Wyk 13 opgerig, asook padstrepe in Howepan en Partyweg in Boltonwold nuut oorgeverf.

Roodepoort

  • Die AfriForum-tak in Roodepoort het lewens saam met Helpende Hand verryk deur tasse en skryfbehoeftes by skole aan die Wes-Rand uit te deel.
  • AfriForum se Roodepoort-buurtwag het ’n massapatrollie in samewerking met die volgende rolspelers gehou om misdaadvoorkoming te bewerkstellig: Fairlands SAPD, Honeydew GPF, Sophiatown GPF, Florida GPF, National Sekuriteit en SCP Sekuriteit.

Westonaria

  • AfriForum se Westonaria-tak het waterpype herstel. Weens ’n tekort aan boumateriaal en munisipale werkers wat onder die invloed van alkohol was kon die munisipaliteit nie die pype regmaak nie.

Kempton Park

  • Die AfriForum-buurtwagte in Kempton Park, Brakpan en Springs het in samewerking met die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) van Bakerton ’n sigbaarheidspatrollie gehou.
  • AfriForum se Kempton Park-tak het bystand verleen tydens die geskilbeslegting van ’n inwoner se buitensporige hoë waterrekening.
  • AfriForum se Kempton Park-buurtwag het bystand verleen tydens die volgende insidente:
    • Verskeie motorongelukke.
    • ’n Straatroof.
    • Drie huisbrake.
    • ’n Voertuig wat in ’n gat geval het.
    • Twee besigheidsrowe.
    • Die aanranding van ’n man op ’n vrou.
    • Twee mediese noodgevalle.

Alberton

  • AfriForum se Alberton-buurtwag het bystand gebied tydens die soektog na ’n vermiste kind.

Benoni

  • AfriForum se Benoni-buurtwag het 11 koeëlvastebaadjies, ’n nagsigapparaat, patrollieligte, noodhulpsakke en pepersproei ontvang ten einde patrolleerders behoorlik toe te rus.

Brakpan

  • AfriForum se Brakpan-buurtwag het geweldmisdaadopruimingspanne (GMOS) gestig.
  • AfriForum se Brakpan-buurtwag het opleiding in toneelhantering ontvang in samewerking met die EMPD.
  • AfriForum se Brakpan-buurtwag het ’n traumabloedbeheerkursus afgelê.
  • AfriForum se Brakpan-buurtwag het ’n fietspatrollie gestig en patrolleerders met valhelms toegerus.

Edenvale

  • AfriForum se Edenvale-buurtwag het gedurende Desember sigbaarheidsaksies by OTM’s en groot winkelsentrums gehou.
  • AfriForum se Edenvale-buurtwag het bystand aan ondernemings gebied wat tydens erge stormweer skade gely het deur sandsakke op dakke te plaas en strate skoon te maak.
  • AfriForum se Edenvale-buurtwag het bystand aan die SAPD verleen tydens die tydelike versorging van ’n kind wat van die huis af weggeloop het.
  • AfriForum se Edenvale-buurtwag het bystand verleen tydens die reddingspoging van ’n hawelose ma en haar baba wat tydens erge stormweer by Horwoods Farm vasgekeer was.
  • AfriForum se Edenvale-buurtwag het in samewerking met veiligheidsinstansies verskeie operasies gehou waartydens arrestasies gemaak en dwelms gekonfiskeer is.
  • AfriForum se Edenvale-buurtwag het bystand gebied tydens die opspoor van ’n inwoner se gesteelde handsak nadat daar by haar voertuig ingebreek is.

Moot

  • AfriForum se Moot-tak het spoedig opgetree om ’n boom wat tydens ’n storm in die pad omgewaai het te verwyder. Die brandweer het ook op die situasie gereageer en gehelp om die probleem op te los.

Wes-Moot

  • AfriForum se Wes-Moot-tak het uitgehelp by die treinongeluk wat in Pretoria plaasgevind het.
  • AfriForum se Wes-Moot-tak het ’n skoonmaakaksie geloods.

Meyerspark

  • AfriForum se Meyerspark-buurtwag het in samewerking met die SAPD gehelp om ‘n gesteelde voertuig op te spoor.
  • ’n Lid van AfriForum se Meyerspark-buurtwag het twee verdagtes opgemerk wat oor ’n muur in Willow Park Manor gespring het. Hy het die verdagtes agtervolg en uit die gebied verjaag. Sowat ’n halfuur daarna is ’n inbraak in Meyerspark oor die radio gerapporteer. Patrollievoertuie is ontbied en een van die verdagtes is met gesteelde goedere in sy besit betrap. Die SAPD was kort daarna op die toneel en die verdagte is gearresteer. Een van die gesteelde items was ’n persoonlike rekenaar wat vertroulike inligting bevat.

 MPUMALANGA

Bethal

  • AfriForum se Bethal-tak het in samewerking met die Bethal GPF verligting gebring deur water aan inwoners te voorsien tydens die waterkrisis in dié dorp.

 Middelburg

  • Die Middelburg-tak het met die eerste fase begin van ’n projek om ’n groenhuis by die Hoërskool Middelburg te bou. Dit behels om ’n nuwe vloer te bou.
  • Die Middelburg-tak het die Helipad-projek voortgesit en die tweede laag verf is aangebring.
  • Die AfriForum-buurtwag in dié dorp het nuwe nagsigtoerusting ontvang.

Witrivier

  • Die Witrivier-tak het ’n suksesvolle stalletjie beman tydens die Geloftefees en het inwoners van gratis koeldranke voorsien tydens die geleentheid.

 Nelspruit

  • AfriForum se Cairn-Burnside-plaaswag het nuwe toerusting ontvang vir die reaksielede.
  • AfriForum se Nelspruit-tak het as deel van die ankerdorpstrategie koeëlvastebaadjies aan die Machadodorp-tak geskenk.

 Machadodorp

  • AfriForum se Machadodorp-tak het toerusting ontvang om lede te help beskerm. Hierdie koeëlvastebaadjies is deur die Nelspruit-tak geborg.

 SENTRAALSTREEK

NOORDWES

 Christiana

  • Die AfriForum-buurtwag in Christiana het die SAPD gehelp om paaie te sluit tydens betogings.

Bloemhof

  • Die AfriForum-buurtwag in Bloemhof het die dorp gepatrolleer tydens onluste.

Delareyville

  • Die AfriForum-tak in Delareyville het ’n verslag deur ’n kundige laat opstel rakende die situasie met die waterstelsel in dié dorp. Die verslag is aan MM, Sedibeng en Cogta gestuur.

 Schweizer-Reneke

  • Die AfriForum-buurtwag in Schweizer-Reneke het ekstra patrollies gehou tydens onluste by die plaaslike laerskool.

 Lichtenburg

  • Die AfriForum-tak in Lichtenburg het ’n vierrigtingstop in 8ste Laan geverf deur die eerste fase van hulle verfprojek te voltooi.

Buffelspoort

  • AfriForum het ’n tak in Buffelspoort gestig. Dié tak sluit drie gebiede in, naamlik Rex, Kroondal en Buffelspoort.

 Zeerust

  • AfriForum se Zeerust-tak het in samewerking met plaaslike ondernemings ’n heining aan die Uitkoms-woonstelle in Zeerust geskenk.

 Potchefstroom

  • AfriForum se Potchefstroom-tak se selfdoenspan het bykans 1 500 slaggate in dié dorp opgevul. Die tak het ook verskeie stoptekens vervang en sodoende tot padveiligheid in die dorp bygedra.

 Ventersdorp

  • Die Ventersdorp-tak se jeugportefeulje het die naamborde by die onderskeie ingange na die dorp opgeknap deur dit nuut oor te verf en skoon te maak. Hierdie naamborde het erg vervalle geraak.

Stilfontein

  • AfriForum se Stilfontein-tak het ’n skoonmaakaksie in samewerking met die SAPD en brandweerdiens geloods om sodoende te verseker dat die gebied rondom die polisiestasie skoon, netjies en veilig is.

 Wolmaransstad

  • AfriForum se Wolmaransstad-tak het suksesvol gereorganiseer en ’n nuwe takbestuur is aangewys met die hoofdoel om hoop vir inwoners in die dorp te skep.

Hartbeesfontein

  • AfriForum se Hartbeesfontein-buurtwag het nuwe toerusting ontvang – insluitend flitse, voertuigmagnete, glimbaadjies en koeëlvastebaadjies – om die buurtwag in staat te stel om ’n groter bydrae tot veiligheid in die dorp te lewer.

VRYSTAAT

 Sasolburg

  • AfriForum se Sasolburg-tak het voortgegaan met die skoonmaak van parke en groen stroke in Sasolburg en Vaalpark om sodoende tot ’n skoon en veilige dorp by te dra.

 Senekal

  • AfriForum se Senekal-tak het bykans 25 stopstrate in die dorp se padstrepe nuut oorgeverf nadat die meerderheid daarvan onsigbaar geword het.

KWAZULU-NATAL

  • AfriForum-takke in KwaZulu-Natal het ’n provinsiale kohesievergadering van die premier bygewoon.
  • AfriForum-takke in KwaZulu-Natal het 28 gemeenskappe gemobiliseer om aan ’n provinsiale patrollie tydens die Desembervakansie deel te neem.

Newcastle

  • AfriForum se Newcastle-tak het radio’s en ander toerusting vir die buurtwag aangekoop.
  • AfriForum se Newcastle-tak het verskeie patrollies gehou om hul gemeenskap te beveilig.

 Vryheid

  • AfriForum se Vryheid-tak het verskeie patrollies gehou om veediefstal en ander misdaad te bekamp.
  • AfriForum se Vryheid-tak het die Abaqulusi Plaaslike Munisipaliteit se foutiewe tenderprosedures uitgewys.
  • AfriForum se Vryheid-tak is betrokke om die korrekte prosedures te volg met betrekking tot die uitbreiding van die dorp se begraafplaas.

Margate

  • AfriForum se Margate-tak het hul gemeenskap beveilig deur daagliks patrollies te hou tydens die feesseisoen.
  • AfriForum se Margate-tak het verskeie jeugtoekennings ontvang danksy hul aktiewe jeugvleuel se aksies.

Hluhluwe

  • Die Hluhluwe-tak se veiligheidspan het tydens die feesseisoen sewe gesteelde voertuie teruggevind.
  • AfriForum se Hluhluwe-tak het die SAPD se provinsiale kantore versoek om die probleem rakende ’n tekort aan polisievoertuie aan te pak.
  • AfriForum se Hluhluwe-tak het sukses teen renosterstropers behaal in samewerking met die Hluhluwe SAPD.

 Pongola

  • AfriForum se Pongola-tak het verskeie suksesse met betrekking tot gesteelde voertuie en renosterstropers behaal.

Paulpietersburg

  • AfriForum se Paulpietersburg-tak het verskeie patrollies gehou om hul gemeenskap te beveilig.
  • AfriForum se Paulpietersburg-tak het die munisipaliteit op terme geplaas weens die dorp se smeulende vullisterrein.

SUIDSTREEK

NOORD-KAAP

Vaalharts

  • AfriForum se Vaalharts-tak het met die Phokwane Plaaslike Munisipaliteit vergader oor klagtes vanuit die gemeenskap en moontlike oplossings rondom hierdie klagtes.

OOS-KAAP

Aliwal-Noord

  • AfriForum se Aliwal-Noord-tak het voer aan boere in Soutpan geskenk waar erge droogtetoestande steeds voortduur.

WES-KAAP

Kraaifontein

  • AfriForum se Kraaifontein-tak het ’n skoonmaakaksie geloods en sekere gedeeltes van dié voorstad skoongemaak, waaronder Okavangoweg en Brightonstraat, asook die kanaal langs Sarel van Deventerweg.

Malmesbury

  • AfriForum het onlangs sy eerste buurtwag in die Rondeberg-gebied gestig om misdaad te help takel. Dié nuwe buurtwag staan as die Rondeberg-buurtwag bekend en vorm deel van AfriForum se Malmesbury-takstruktuur.
  • AfriForum se Rondeberg-buurtwag het opleiding ontvang oor regsaspekte wat op patrollies van toepassing is.

Vredendal

  • AfriForum se buurt- en plaaswagte in die Matzikama-streek het opleiding ontvang oor regsaspekte wat op patrollies van toepassing is.

Overstrand

  • AfriForum se Alfa- en Groter Gansbaai-buurtwag, asook die Hemel-en-Aarde-plaaswag, wat almal deel vorm van die burgerregte-organisasie se Overstrand-tak, het tydens die veldbrande in Hermanus en Franskraal bystand aan verskeie rolspelers verleen. Die buurtwaglede het onder meer gehelp om eiendomme in gevaarsones te ontruim en brande te blus. AfriForum se gemeenskapsveiligheidstrukture het saam met brandweerspanne van die Overstrand en die omliggende dorpe onverpoos die vure beveg om seker te maak dat skade sover moontlik beperk is.

PORTEFEULJES

Gesondheidsake

  • Gesondheidsake het twee energieverwante petisies opgestel en by die parlement ingedien. Hulle het gevolglik baie media-aandag ontvang.

Soortgelyke plasings