AFRIFORUM-SUKSESSE: JULIE 2019

NOORDSTREEK

LIMPOPO

 Tzaneen

  • Tydens Juliemaand is die #AnkerdorpPadskou-veldtog in Tzaneen gehou en die volgende suksesse is behaal –
  • AfriForum se Tzaneen-tak het stoptekens aan die verkeersdepartement oorhandig met die doel om padveiligheid in die dorp te verbeter.
  • AfriForum se Tzaneen-tak het ’n skoonmaakaksie by die begraafplaas in Koöperasiestraat gedryf. Die doel van die aksie was om die begraafplaas en omgewing op te ruim.
  • AfriForum se Tzaneen-tak het ’n skoonmaakaksie langs die treinspoor in Modjadjiskloof gedryf. Die doel van die aksie was om veiligheid in die gebied te verhoog omdat bosse langs die treinspoor as ’n ontvlugtingsroete vir diewe dien.
  • AfriForum se Tzaneen-tak het padstrepe rondom die Hoërskool Merensky nuut oorgeverf as deel van ’n skolepeiling wat op Facebook geloods is.
  • AfriForum se Tzaneen-tak het ’n volhoubare projek geloods waartydens straatname in die dorp op randstene aangebring is. Die doel van die projek was om straatname weer sigbaar te maak omdat naamborde gesteel word.
  • AfriForum se Tzaneen-tak het ’n skoonmaakaksie by die Fanie Bothadam se Jetty 3 gehou. Die doel van die aksie was om die omgewing op te knap en vullis op sowel die oewer as die dam te verwyder.
  • Die veiligheidstrukture van AfriForum se Tzaneen-tak het op 23 Julie 2019 gereorganiseer en ’n nuwe buurtwag- en veiligheidsvoorsitter verkies.
  • AfriForum se buurtwagte in Tzaneen en Phalaborwa het buurtwagopleiding ontvang. Die doel van die opleiding was om te verseker dat buurtwagte met voldoende kennis toegerus is om misdaad te bekamp.

Ellisras

  • Die AfriForum-buurtwag in Ellisras het in samewerking met die plaaslike GPF, die SAPD en gemeenskapslede in die vroeë oggendure twee vermeende wildstropers gearresteer.

Phalaborwa

  • Danksy die paraatheid van AfriForum se Phalaborwa-buurtwag is ’n verdagte tydens ’n roetinepatrollie gearresteer. Dít volg nadat die buurtwag onraad vermoed het toe hulle beweging by ’n verlate huis opgemerk het. Die buurtwag het in samewerking met die SAPD by nadere ondersoek ’n verdagte wat vermoedelik met verskeie misdrywe verbind word, gearresteer. Tydens die arrestasie is daar beslag gelê op sowel dwelms as toerusting wat vermoedelik by ander misdrywe gebruik is.

  

GAUTENG

  • AfriForum het by die dringende hof met die Tshwane-metro vergader nadat die metro die burgerregte-organisasie vir gesamentlike gesprekke genooi het voor die dringende hofaansoek. Die gesprekke het gehandel oor die verhoogde tarief wat die metro geïmplementeer het sonder Nersa se goedkeuring.
  • Die Tshwane-metro het aangekondig dat hulle nie sal voortgaan met die implementering van die onwettige tarief vir die termyn 2019/2020 vanaf 17 Julie nie. Dít het gevolg ná volgehoue druk en ’n hofsaak wat AfriForum teen die metro gedryf het om die proses stop te sit.
  • AfriForum se Nehemia-bestuurspan aan die Oos-Rand het bystand verleen tydens brande wat by twee wonings in Estherpark te Kempton Park uitgebreek het. Hulle het ook klere en komberse aan die geaffekteerde gesin voorsien.
  • Die AfriForum-takke in Brakpan, Benoni en Germiston het die SAPD se imbizo bygewoon om misdaadstatistieke in die onderskeie gebiede aan die Oos-Rand te bespreek en insette te lewer.

Vanderbijlpark

  • Die AfriForum-buurtwag in Vanderbijlpark het die afgelope maand verskeie aksies van stapel gestuur om die gemeenskap te beveilig. Die buurtwag het hul maandelikse patrollie by die plaaslike begraafplaas gehou sodat die gemeenskap hul geliefdes se grafte veilig kon besoek.
  • AfriForum se Vanderbijlpark-tak het hul plaaslike takkantoor en beheerkamer amptelik geopen.

Roodepoort

  • Die AfriForum-buurtwag in Roodepoort het tydens Julie aan verskeie veiligheidsaksies en klopjagte deelgeneem. Die buurtwag het bystand aan die SAPD en ICE-gemeenskapspolisiëring gebied tydens ’n gebiedsafbakeningsoperasie in Florida, Hamberg en Maraisburg.

 Randfontein

  • AfriForum se Randfontein-tak en die stadsraad het hande gevat om die padtekens en toestand van die sypaadjies rondom dié dorp se laerskole op te knap.

 Meyerspark

  • Lede van AfriForum se Meyerspark-buurtwag het verdagtes vasgetrek in samewerking met Brinant Sekuriteit en K9 Sekuriteit. Dít volg nadat ’n lid van die gemeenskap ’n video na die buurtwag gestuur het waar die verdagtes besig was om oor huise se mure te spring. Die buurtwag het onmiddellik gereageer en die verdagte in samewerking met die sekuriteitsmaatskappye vasgetrek, waarna die polisie ontbied is en die verdagtes gearresteer het.

Kempton Park

  • Die tak het in samewerking met die SAPD en verskeie veiligheidsorganisasies ’n operasie uitgevoer waartydens onwettige ammunisie en dwelms gevind is.
  • Die Kempton Park-tak het bystand aan ’n Birchleigh-inwoner gebied en mediese dienste na die woning ontbied.
  • Die tak het misdaadtoneelopleiding saam met die SAPD ontvang.
  • Die AfriForum-tak het hulp verleen tydens die voorkoming van ’n kapingsvoorval.
  • Die tak het bystand gebied tydens ’n voorval van huismoles.
  • Die Kempton Park-tak het die DBV bygestaan tydens die verwydering van ’n hond wat ’n persoon gebyt het.
  • Die tak het bystand aan Alpha Sekuriteit gebied tydens ’n huisbraak.
  • Die tak het hulp verleen op ’n ongelukstoneel.
  • Die AfriForum-tak het inwoners van ’n kompleks bygestaan nadat hul voertuig se wiele gesteel is.
  • Die tak het inwoners van dieselfde kompleks gehelp met die oprigting van ’n elektriese heining.
  • Die Kempton Park-tak het bystand gebied tydens die uitreiking van boetes deur die SAPD en Ekurhuleni-metropolisie aan winkels wat operasionele tye oorskry.
  • AfriForum se Kempton Park-buurtwag het verskeie sigbaarheidspatrollies in die gebied uitgevoer as deel van die buurtwag se proaktiewe benadering tot gemeenskapsveiligheid.
  • Die buurtwag het in samewerking met die SAPD, die Ekurhuleni-metropolisie, die plaaslike GPF en verskeie sekuriteitsmaatskappye aan klopjagte deelgeneem waartydens vier arrestasies gemaak is.
  • AfriForum se Kempton Park-buurtwag het aan die SAPD se operasies deelgeneem waartydens onwettige wapens en dwelms gekonfiskeer en een arrestasie uitgevoer is.

Alberton

  • AfriForum se Alberton-buurtwag het twee vermeende verdagtes gearresteer wat goedere uit ’n vragmotor gesteel het. Die buurtwag het die verdagtes daarna aan die SAPD oorhandig.

 Springs

  • AfriForum se Springs-tak het strafregtelike klagtes teen die munisipale bestuurder van die Ekurhuleni-metro ingedien rakende die voortdurende rioolstorting in die Blesbokspruit.
  • AfriForum se Endicott-plotwag in Springs het bystand verleen tydens die blus van 21 brande.
  • AfriForum se Endicott-plotwag in Springs het 67 komberse vir die plaaslike gemeenskap ingesamel.
  • AfriForum se Endicott-plotwag in Springs het hulp verleen tydens ’n tref-en-trap-ongeluk en die TrackBox-toep gebruik om nooddienste te ontbied.
  • AfriForum se Endicott-plotwag in Springs het sy huisnommerprojek uitgebrei en meer as 60 nuwe huisnommers by wonings in die gemeenskap aangebring.
  • AfriForum se Springs-buurtwag het lugsteun aan die SAPD verleen tydens die verkenning van ’n hoë misdaadgebied.

Benoni

  • AfriForum se Benoni-buurtwag het in samewerking met die plaaslike GPF drie vermeende verdagtes vasgetrek.

 Edenvale

  • AfriForum se Edenvale- en Kempton Park-buurtwag het in samewerking met die SAPD, die plaaslike GPF en sekuriteitsmaatskappye ’n operasie uitgevoer waartydens vyf arrestasies gemaak en beslag op onwettige wapens gelê is.

Germiston

  • Ná volgehoue druk deur AfriForum se Germiston-tak is verskeie straatligte in die gebied vervang, bome naby kragdrade is gesnoei, stopstrate is geverf en ’n rioollekkasie is in Elsburg herstel.
  • AfriForum se Germiston-tak het hulp verleen by ’n brandende motorhuis wat in ’n woonstel omskep is.

 Wes-Moot

  • Die jeugportefeulje van AfriForum se Wes-Moot-tak het opleiding in brandbestryding vir die plaaslike jeug aangebied. Tydens dié opleiding het die jeug geleer om te onderskei tussen ’n brand van algemeen vlambare stowwe, asook chemiese en elektriese brande.

Oos-Moot

  • AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het in samewerking met die Tshwane-metro, ’n plaaslike raadslid en die gemeenskap 12 spreiligte in Pieter Humanpark geïnstalleer om veiligheid in die omliggende gebied op te skerp. Dít volg nadat ’n inwoner die buurtwag gekontak het met die behoefte om die park te verlig sodat misdadigers nie ongesiens en vrylik in die gebied kan rondbeweeg nie. AfriForum en die gemeenskap het die ligte geborg, waarna die Tshwane-metro dit geïnstalleer het.
  • Lede van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag het twee kabeldiewe in samewerking met die SAPD en Kilnerpark Sekuriteit tydens een van dié buurtwag se sigbaarheidspatrollies gearresteer.

Rayton-Cullinan

  • AfriForum het sy Rayton-Cullinan-tak gereorganiseer.

 

MPUMALANGA 

  • AfriForum se omgewingsake-span het ’n beplande steenkoolmyn naby die Nasionale Krugerwildtuin teengestaan.
  • AfriForum-buurtwaglede van Cairn-Burnside (Nelspruit), Lydenburg, Machadodorp, Middelburg en Witrivier het ’n gekombineerde opleidingsdag in Middelburg bygewoon. Dit het onder meer regs-en-risiko-opleiding, huis-en-haardbeskerming, die bedryf van inligting, asook toneelhantering ingesluit.

Witrivier

  • Lede van AfriForum se Witrivier-buurtwag het bystand gebied met verskeie veldbrande.
  • Buurtwaglede het ’n verdagte vasgetrek wat ’n selfoon gesteel het.

 Bethal

  • Bethal se AfriForum-tak het in samewerking met die plaaslike GPF en boere vanuit die Bethal-omgewing water aan ’n laerskool verskaf nadat die opgaartenks van die skool droog geloop het tydens die waterkrisis in dié dorp.
  • Die Bethal-tak het waterpunte opgestel tydens die waterkrisis om verligting aan inwoners te bring wat aanvanklik sonder water moes klaarkom.

 Piet Retief

  • AfriForum se Piet Retief-buurtwag het massapatrollie gehou.
  • Die buurtwag het in Juliemaand opleiding ontvang wat regs-en-risiko-opleiding, toneelhantering, die bedryf van inligting en huis-en-haardbeskerming ingesluit het.
  • AfriForum se Piet Retief-tak het skoonmaakaksies in die begraafplaas geloods.

 Standerton    

  • AfriForum se Standerton-buurtwag het hulp verleen met veldbrande in en om dié dorp.
  • AfriForum se Standerton-buurtwag het massapatrollie gehou.
  • AfriForum se Standerton-buurtwag het ’n operasie saam die SAPD gehou om veediefstal te voorkom.
  • AfriForum se Standerton-tak het hulp aan die gemeenskap verleen deur gebarste waterpype te herstel.
  • AfriForum se Standerton-buurtwag het in Juliemaand opleiding ontvang wat regs-en-risiko-opleiding, toneelhantering, die bedryf van inligting en huis-en-haardbeskerming ingesluit het.

 Teks (Trichardt, Eloff, Kinross en Secunda)

  • AfriForum se Teks-tak het die gholfdag geborg om fondse in te samel en lede te werf.
  • Die Teks-buurtwag het op ’n ongelukstoneel uitgehelp deur verkeer te reguleer.
  • Die Teks-buurtwag het in Julie opleiding ontvang wat regs-en-risiko-opleiding, toneelhantering, die bedryf van inligting en huis-en-haardbeskerming ingesluit het.

 Delmas 

  • AfriForum se Delmas-buurtwag het in Julie opleiding ontvang wat regs-en-risiko-opleiding, toneelhantering, die bedryf van inligting en huis-en-haardbeskerming ingesluit het.

Witbank 

  • AfriForum se Witbank-tak het projekbeplanning gedoen vir fase drie van hulle padveiligheidsprojek.

 

 

SENTRAALSTREEK

NOORDWES

 Vryburg

  • Die AfriForum-tak in Vryburg het ’n aksie gereël dat inwoners hulle vullis na die munisipaliteit bring omdat dit nie verwyder word nie. Die takbestuur het gevolglik ’n afspraak met die administrateur van die munisipaliteit vasgemaak.

 Delareyville

  • Die AfriForum-tak in Delareyville het ’n verdagte voertuig opgespoor danksy hulle kamerastelsel.

 Sannieshof

  • Die AfriForum-buurtwag in Sannieshof het ’n herhaler in ontvangs geneem.

 Schweizer-Reneke      

  • Die AfriForum-tak in Schweizer-Reneke het die munisipaliteit gehelp met die herstel van kragtoevoer.

 Brits

  • AfriForum het gemeenskapsveiligheid- en takstigtingsvergadering in Brits gehou. Ongeveer 100 mense het vir die vergadering opgedaag waartydens die Brits-tak se bestuurspan verkies is.

 

VRYSTAAT

 Bethlehem

  • Die AfriForum-tak in Bethlehem het Stop the Bleed-opleiding vir die gemeenskap aangebied. Tydens dié opleiding leer gemeenskapslede hoe om in ’n noodsituasie te reageer – om erge bloeding van ’n wond op die regte manier te stop en hoe om korrek druk daarop toe te pas totdat nooddienste op die toneel opdaag.

 Kroonstad

  • AfriForum het in Julie met sowel die munisipale bestuurder as die uitvoerende burgemeester van die Moqhaka Plaaslike Munisipaliteit vergader. Dié nuutgestigte tak het ’n vergadering met die munisipaliteit aangevra om die takbestuur voor te stel en goeie samewerking in die toekoms te verseker.

 Welkom

  • AfriForum se Welkom-tak het die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas oor die swak bestuur en agteruitgang van dié gebied se vullisterreine. Geen van dié munisipaliteit se vullisterreine voldoen aan die nodige wetlike vereistes nie.

 Reitz

  • Die Reitz-tak het die Nketoana Plaaslike Munisipaliteit op terme geplaas weens die toestand en agteruitgang van die vullisterrein. Die vullisterrein voldoen nie aan die nodige wetlike vereistes nie. Die tak sal voortaan die vullisterrein moniteer en die munisipaliteit is ’n sekere tydperk gegee om op AfriForum se skrywe te reageer.

 

SUIDSTREEK

NOORD-KAAP

  • AfriForum het skrywes aan die volgende persone gerig vir vergaderings om sekere kwessies te bespreek: Die premier van die Noord-Kaap, die LUR van COGHTA, asook die LUR vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling in die Noord-Kaap.

 Prieska

  • AfriForum se Prieska-tak het skrywes aan die munisipale bestuurder van die Siyathemba Plaaslike Munisipaliteit gerig insake besoedeling van die Prieskarivier en uiteindelike besoedeling van die Oranjerivier, asook die skoonmaak van waterafvoerslote.

 Kimberley

  • AfriForum se Kimberley-tak het buurtwagtoerusting aan buurtwaglede oorhandig.
  • AfriForum se Kimberley-tak het skrywes aan die munisipale bestuurder gerig oor die vandalisering van ’n begraafplaas in dié stad, asook oor waterprobleme wat in die Ritchie-gebied ondervind word.

 Vaalharts

  • AfriForum se Vaalharts-tak het probleme met die provinsie se paaie geïdentifiseer in samewerking met die departement verantwoordelik vir die provinsie se padwerke.
  • AfriForum se Vaalharts-tak het ’n skrywe aan die munisipale administrateur oorhandig en daarop aangedring om ’n vergadering te belê om kwessies te bespreek wat in die munisipale gebied aangepak behoort te word.

 Aliwal-Noord

  • AfriForum se Aliwal-Noord-tak het gehelp met die skenking van voer aan boere in die Aberdeen-gebied.
  • AfriForum se Aliwal-Noord-tak het vergaderings bygewoon oor die storting van riool in die Oranjerivier.

 Elliot

  • AfriForum se Elliot-tak het gehelp met die herstel van watertoevoer na Arlington.

 Williston

  • AfriForum se Williston-tak het met die departement van padwerke in die Noord-Kaap vergader om die stand van die provinsiale grondpaaie te bespreek.

 

WES-KAAP

Mosselbaai

  • Die AfriForum-herhaler vir die Groter Brandwag- en Herbertsdale-plaaswag is op Gondwana Game Lodge opgerig.
  • Basiese watertoetse is van die Hartenbosrivier gedoen en tydens die Hartenbos Rivierforum, waarop AfriForum sitting het, se vergadering ingedien. Alles behalwe die E. coli-vlakke – wat effens hoog was – was binne perke.
  • AfriForum se Groter Brandwag-plaaswag het in samewerking met Da Gama SAPD se landelike sektor ’n uiters geslaagde reaksieplansimulasie vir ’n plaasaanval gehou.

 Helderbergkom

  • AfriForum se Gordonsbaai-buurtwag, wat deel vorm van die burgerregte-organisasie se Helderbergkom-takstruktuur, is gekontak nadat ’n huis in Gordonsbaai aan die brand geraak het. Lede van genoemde buurtwag het hul na die toneel gehaas waar Gordon’s Bay Security reeds teenwoordig was. Die brandweer is ontbied en kon daarin slaag om die brand te blus voordat die huis heeltemal in puin gelê is. Lede van die AfriForum-buurtwag het, vandat die brand plaasgevind het totdat die inwoners weer in die huis kon terugtrek, dit snags beveilig en gereelde patrollies deur die dag by die perseel gedoen om dit teen diefstal te beskerm.

Malmesbury

  • Die burgerregte-organisasie AfriForum het welverdiende erkenning aan werknemers van die Highlands-vullisterrein buite Malmesbury gegee vir hulle uitstekende bestuur van dié terrein. Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het alle werknemers van die terrein bedank vir hul bydrae tot die terrein se sukses. Brad Theron, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Malmesbury-tak, het ook ’n sertifikaat aan Gerhard Havenga, bestuurder van die terrein, oorhandig. Die Malmesbury-tak het al die werknemers met ’n geskenkpakkie van eet- en drinkgoed beloon.

Overstrand

  • AfriForum se Alfa-buurtwag in die Overstrand het gehelp met die arrestasie van vier verdagtes nadat ’n huisroof kort voor middernag in Onrus plaasgevind het. ’n Soektog is van stapel gestuur nadat inligting oor die verdagtes met rolspelers, insluitend Fidelity ADT en die SAPD, gedeel is.

Robertson

  • AfriForum het ’n takstigtingsvergadering in Robertson gehou nadat die gemeenskap die burgerregte-organisasie genader het omdat ’n groot behoefte aan gemeenskapsveiligheid in die omgewing ontstaan het.

Soortgelyke plasings