AfriForum-tak in Bethal gebruik meer as 1 000 sakkies teer vir slaggate


AfriForum se tak in Bethal het ’n suksesvolle slaggatprojek in dié dorp afgesluit. Met behulp van verskeie instansies en lede van die gemeenskap het die tak sedert Januarie 2018 meer as 1 000 sakkies teer in Bethal gebruik om slaggate te vul.
Strate is herstel wat as hoofroetes geïdentifiseer is. Tydens Fase 1 is Buffelstraat herstel vanaf Davelweg tot by Blesbokstraat. Fase 2 is daarna aangepak, wat Blesbokstraat tot by Wesstraat ingesluit het. Tydens Fase 3 is Wesstraat herstel. Marklaan het ook aandag gekry en die pad is tot voor Laerskool Marietjie van Niekerk herstel.

“Blesbokstraat was onveilig vir motoriste wat moes uitswaai om slaggate mis te ry. Daar beweeg baie voertuie daar verby op pad na die laerskool; daarom het ons hierdie gedeelte eerste herstel,” sê Ingrid Human, die omgewingsakevoorsitter van AfriForum se Bethal-tak.

Tans word slaggatherstelwerk in Vermootenstraat vanaf die N17 tot by Van Riebeeckstraat in die vooruitsig gestel, asook in Waterbokstraat.
Die Bethal-gemeenskap word gevra om asseblief met die tak in kontak te tree en hulp te verleen. Kontak Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga, by 081 217 6091 indien bydraes gelewer kan word.
Raak betrokke: SMS “Bethal” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings