|

AfriForum-tak bied R10 000-beloning aan vir inligting oor sabotasie

Die AfriForum-tak in Margate bied ’n beloning van R10 000 aan vir inligting wat tot die suksesvolle vervolging van mense of organisasies sal lei wat die watertoevoernetwerk saboteer of beskadig. Dít volg nadat verskeie watertoevoerpypleidings en -kleppe tydens ’n onlangse staking deur munisipale werkers beskadig is.

“Sakeondernemings in die Ugu Distriksmunisipaliteit ly jaarliks geweldige skade as gevolg van toeriste wat hulle verblyf kanselleer. Ons plaaslike ekonomie ly ook erg daaronder en daarom het ons besluit om ’n beloning uit te reik vir inligting wat tot vervolging kan lei,” sê Barry Smit, voorsitter van AfriForum se Margate-tak.

“Ons vermoed die sabotasie word opsetlik gepleeg sodat individue en groepe by moontlike kontrakwerk kan baat. Hierdie kan gesien word as waterkaping wat ’n skending van menseregte is,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

AfriForum het ook die Menseregtekommissie (MRK) se nasionale kantoor genader om die klagte te ondersoek wat voorheen by die provinsiale kantoor ingedien is en nog nie ondersoek is nie.

AfriForum moedig diegene wat inligting oor die voorvalle het aan om na vore te kom. Enige inligting sal streng vertroulik hanteer word en kan by Wessel Pretorius by 082 318 6195 aangemeld word. Voorwaardes ten opsigte van die beloning sal geld.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS jou naam na 45267 (R1).

Soortgelyke plasings