AfriForum-tak in Delareyville identifiseer groot waterlek


Te midde van groot waterskaarste in Delareyville het die AfriForum-tak ’n enorme waterlek op die hoek van  Visagie- en Delareystraat geïdentifiseer. Die Tswaing Plaaslike Munisipaliteit sê al vir ten minste twee jaar dat hulle nie dié lek kon opspoor nie.
Pierre du Plessis, ’n bestuurslid van die plaaslike AfriForum-tak, het self besluit om die ligging van die lek vas te stel, wat hy binne ’n dag kon doen. Volgens Du Plessis is dit ’n hoofwaterpyp wat lek en groot watervermorsing tot gevolg het. Dit veroorsaak dat druk in baie van die dorp se waterpype afneem, wat weer veroorsaak dat sekere dele van die dorp selde water het.

“Ongelukkig kan die AfriForum-tak nie die lek self herstel nie, want die pad moet met spesiale masjinerie deur Sanral oopgemaak word. Die munisipaliteit het onderneem om onmiddellik in hierdie verband met Sanral te skakel. Die plaaslike AfriForum-tak sal bly druk toepas om te verseker dat die pyp herstel word,” sê Du Plessis.
“Dit is baie kommerwekkend om te ervaar dat die munisipaliteit nie die toerusting, kundigheid of wil het om sulke foute te herstel nie. Ons is dankbaar vir mense soos Du Plessis, wat bereid is om hul tyd ter wille van die gemeenskap op te offer. Saam kan ons ’n verskil maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Raak by jou plaaslike AfriForum tak betrokke deur “Water” na 45351 te SMS (R1).

Soortgelyke plasings