AfriForum-tak en -buurtwag maak Potchefstroom skoner en veiliger

AfriForum se Potchefstroom-tak en -buurtwag het op Saterdag 22 Februarie 2020 gewerskaf om Potchefstroom weer ’n mooier, skoner en veiliger plek te maak. Taklede het die park in Louwstraat aangepak en die sowat 1 meter hoë gras gesny, waarna hulle ook die gras in Geelhoutstraat en Ou Bailliepark gesny het.

“Inwoners van Potchefstroom besef nou dat hul self hand aan die ploeg moet slaan om die dorp netjies te hou. Selfs plaaslike ondernemings ondersteun die inisiatief dat selfdoen beter is as niks doen. Die lang gras in parke laat nie net die dorp onnet lyk nie, maar is ook ’n veiligheidsgevaar. Hierdie is net die begin van aksies wat ons deurlopend wil aanpak om woonbuurte in die dorp weer skoon, netjies en veilig te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

Kappie van Wyk, voorsitter van die Potchefstroom-tak, bedank graag OM Agri vir die gebruik van hul trekker, wat die werk soveel vinniger en makliker gemaak het. Build It Potchefstroom het die harde werkers se dors met yskoue water geles.

Wees op die uitkyk vir toekomstige aksies wat ook binnekort in ander gebiede van Potchefstroom gaan plaasvind en sluit aan by die wenspan. Kontak vir Kappie van Wyk by 072 382 5259 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings