|

AfriForum-tak en gemeenskap in Paulpietersburg knap begraafplaas op

Die AfriForum-tak in Paulpietersburg het op Saterdag 22 Januarie saam met lede van die gemeenskap gewerk om die begraafplaas op te knap.

Hierdie aksie volg ná die begraafplaas byna totale verval bereik het as gevolg van die plaaslike munisipaliteit se versuim om basiese onderhoudswerk te verrig.

Die opknappingsprojek het reeds sowat twee weke gelede afgeskop toe vrywilligers die gras met onkruiddoder gespuit het om te verhoed dat dit uitermatig groei. Sowat 26 vrywilligers het die afgelope Saterdag byeengekom, toegerus met ’n trekker, grassnyer, bossiekappers en ander toerusting om die gras te sny en die begraafplaas skoon te maak.

“Aksies soos hierdie dui keer op keer aan hoe belangrik dit is dat gemeenskappe nie net terugsit en wag dat die munisipaliteit iets doen nie, maar dat hulle bereid moet wees om self in te spring om ons erfenis te beskerm. Dit bly egter hartseer dat ons wetlik verplig is om belasting te betaal én dan nog die owerhede se werk moet doen,” sê Martin Dedekind, AfriForum se takvoorsitter in Paulpietersburg.

“Gemeenskappe moet hulself op só manier posisioneer om self ons dorpe van ondergang te red. Ons sien toenemend hoe gemeenskappe gereed staan om hierdie tipe reddingsprojekte aan te pak,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

Sluit by AfriForum se Paulpietersburg-tak aan deur “Paulpiet” te SMS na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings