AfriForum-tak en Klerksdorp-gemeenskap maak ’n verskil

Oud en jonk het op Saterdag 22 Februarie ingespring en hand bygesit om die gevaarlike slaggate in die Songloed/De Clercqville -woongebied te vul. Verkeerstekens is ook vervang wat al ’n geruime tyd vermis is.

Volgens Frans Roos, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, is hierdie aksie die eerste van hul buurtvernuwingsprogram. Dié program behels ’n kostedeoltreffende, langtermyn- en strategiese benadering om infrastruktuurbehoeftes van die woongebied te onderhou en te bevorder. ’n Stads- of buurtvernuwingsprogram fokus op voorkomende instandhouding, die rehabilitasie van paaie, vervanging van straatligte, de herstel van sypaadjies en randstene, en die skoonmaak van straatgeute en die stormwater-infrastruktuur. Dit beteken dat ’n volledige gebiedsopname van alle woongebiede gemaak en ’n instandhoudingsplan opgestel moet word, en dan geprioritiseer en geïmplementeer word. “Verder moet die behoeftes formeel aan die munisipale raad voorgelê word, sodat hulle ’n begroting vir toekomstige instandhoudingsprojekte kan opstel,” sê Roos.

“Die sukses van so ’n projek word hoofsaaklik bepaal deur die inwoners se ingesteldheid om die buurt te verbeter. Dit is vanselfsprekend dat inwoners, besorgde organisasies en ondernemings die projek sal moet befonds en voer. Dit beteken egter nie dat die munisipaliteit nie sy wetlike verpligtinge moet nakom nie en ons hoop dat hierdie projek hul samewerking sal aanmoedig,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mooirivier.

 

“Ons is vol vertroue dat ons Klerksdorp se woongebiede met goeie samewerking weer mooi en veilig kan maak,” sluit Roos af.

Die Klerksdorp-tak wil alle vrywilligers, maar in besonder die volgende mense bedank:

  • Francois Evert van die Nederduits Hervormde Kerk vir die reëlings met die aksie en die gebruik van die kerk se fasiliteite;
  • Die gemeentelede, wat vir al die vrywilligers verversings aangebied het;
  • Action Force, wat die verkeer gereguleer het;
  • Jeremy Bosman en die buurtwaglede;
  • Heinrich Raath van Ellaton Mining Supplies, wat op kort kennisgewing met verkeerstekens gehelp het;
  • Hendrik Fritz en Eugene Verster, wat die teer opgelaai en ook met die arbeid gehelp het;
  • Geopaint Klerksdorp vir die skenking van padverf; en
  • Raadslid Piet Swart vir die kommunikasie met die munisipaliteit.

Inwoners wat ’n passie het om hul omgewing ’n beter en veiliger plek te maak, kan Frans Roos by 083 378 8826 kontak om uit te vind hoe om betrokke te raak.

Soortgelyke plasings