AfriForum-tak in Hertzogville rig waarskuwing: Drinkwater steeds nie veilig nie


Watertoetse wat AfriForum se Hertzogville-tak in Maart uitgevoer het, het daarop gedui dat dié dorp se drinkwater E. coli bevat. Die drinkwater is onlangs weer getoets en hoewel dit nie meer E. coli bevat nie, dui laboratoriumuitslae aan dat skadelike bakterieë wel in die water voorkom.
Hierdie bakterieë hou ernstige gesondheidsrisiko’s in en inwoners word derhalwe afgeraai om die water te drink, tensy dit gekook of gesuiwer is.
AfriForum sal vanaf aanstaande week ’n watersuiweringsproduk, Rubicon, aan inwoners beskikbaar stel. Inwoners sal 25 liter drinkwater met slegs een pakkie van hierdie produk kan suiwer sodat dit veilig vir menslike gebruik is.

“Die plaaslike AfriForum-tak het in Maart ’n skrywe rakende die E. coli in die water aan die munisipale bestuurder gerig, maar geen reaksie ontvang nie. Dit lyk egter wel of hulle probeer het om die watersituasie te verbeter, maar dít was nie genoeg nie. Takbestuurslede wil ’n vergadering met die munisipale bestuurder belê om verskeie kwessies in Hertzogville te bespreek. Indien die kwessies nie bespreek word nie, sal die tak dit oorweeg om die munisipale bestuurder persoonlik verantwoordelik te hou,” sê Alta Pretorius, AfriForum se streekskoördineerder vir Stellaland.

Raak vandag nog by jou plaaslike AfriForum-tak betrokke: SMS “Hertzogville” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings