|

AfriForum-tak in Centurion maak park en strate skoon

Die AfriForum-tak in Centurion se tuinspan het die afgelope week verskeie areas in Centurion skoongemaak.

Die tak het begin om die tennisbaanpark in Valhalla skoon te maak. Meer as 100 sakke vullis is verwyder, asook ’n paar vragte gras en onkruid. Die tuinspan het verder die beddings skoongemaak, gras gesny en gevaarlike takke verwyder. 

Die tuinspan het later die week ingespring in Willem Bothastraat (Eldoraigne/Wierdapark) om die onkruid en vullis op en rondom die sypaadjies te verwyder en die middelmanne is skoongemaak. AfriForum se Centurion-tak het verskeie klagtes uit die gemeenskap ontvang rakende die area en het daarom besluit om die tuinspan te stuur om die area skoon en netjies te maak.

Die tak het ook reeds begin met die instandhouding van die parke in Valhalla wat aangeneem is deur middel van die Tshwane Metro se Adopt-a-spot-program en wil graag die publiek uitnooi om weer die parke te kom geniet. Die parke sal maandeliks in stand gehou word.

“Ons krag en energie kom van ons lede wat deelneem en betrokke raak by die selfdoen- en veg-en-bou-planne van AfriForum. Ons is dankbaar vir elkeen wat betrokke is,” sê André de Bruyn, voorsitter van AfriForum se Centurion-tak.

“Hierdie projekte is baie belangrik om ’n veilige en skoner omgewing vir almal te skep. AfriForum sal aanhou om hierdie tipe projekte aan te pak en uit te brei na die verskillende areas waar ons strukture het. Dit is belangrik om saam met gemeenskappe te werk omdat ons sodoende baie meer kan vermag,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan reeds hul volgende groot aksies en projekte en wil die gemeenskap uitnooi om hul Facebook-blad dop te hou en om by die groepe op die Telegram-toep aan te sluit.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings