|

AfriForum-tak in Centurion sit harde werk voort

Die AfriForum-tak in Centurion se tuinspan en buurtwag het die laaste week verskeie projekte in die Centurion-omgewing aangepak.

Die Centurion-tak se tuinspan het die afgelope week hard gewerk in die ou militêre begraafplaas in Voortrekkerhoogte. Dié begraafplaas is in ’n bedenklike toestand en geen instandhouding word gedoen nie. Dit is ook ’n veiligheidsrisiko vir enige lid van die gemeenskap wat graag die grafte daar wil besoek. Die Centurion-tak het besluit om hier in te spring en te help om die begraafplaas weer op te knap.

Die buurtwag het oor die naweek (6 en 7 November) veiligheidsoudits by die twee parke – Montaque Kneen-park en Furman-park – wat onlangs deur die Adopt-a-Spot-projek aangeneem is. Hierdie oudits kyk na verskeie aspekte van die parke se veiligheid om te bepaal waar moontlike gevare kan voorkom, waar die park nie aan die kriteria voldoen om as veilig verklaar te word nie sal die tak inspring om die probleme uit te klaar.

Die tuinspan het ook op 8 November amptelik begin met instandhoudingswerk by Furman-park in Valhalla.

“Ons lede wat saam deelneem aan selfdoenaksies wat ’n verskil in ons omgewing maak gee ons die energie om hierdie aksies vol te hou. Ons krag is in die gemeenskap wat besluit om saam te staan en saam te werk gevestig,” sê André de Bruyn, AfriForum se takvoorsitter in Centurion.

“Ons by AfriForum sal voortgaan om die gemeenskap vir almal te verbeter.  Dit is belangrik dat ons hande vat en projekte soos hierdie saam aanpak om ’n gesonder en veiliger omgewing te skep.  AfriForum is dankbaar teenoor elke lid wat dit moontlik maak vir ons om hierdie tipe projekte aan te pak en te bestuur,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

Die tak beplan reeds hul volgende groot aksies en projekte en wil die gemeenskap uitnooi om hul Facebook-blad dop te hou en om by die groepe op die Telegram-toep aan te sluit.

Raak vandag nog by AfriForum se Centurion-tak betrokke om ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak: SMS “Centurion” na 45340 (R1).

Soortgelyke plasings