AfriForum-tak in Heilbron oorhandig afdrukpapier aan Hoërskool Heilbron

Die AfriForum-tak in Heilbron het op 14 Januarie vanjaar 20 bokse afdrukpapier aan die Hoërskool Heilbron oorhandig om aangewend te word vir leerders se werkvelle en notas. Dié skenking is gemaak in reaksie op ’n omsendskrywe van die skool waarin elke huisgesin versoek word om ’n boks papier skool toe te stuur om te verseker dat hulle kinders werkvelle en notas ontvang.

Danie Knoetze, voorsitter van die AfriForum-tak  in Heilbron, voel dat dit onregverdig is om minder gegoede kinders op daardie wyse te benadeel. Hy en die takbestuur het onmiddellik besluit om 20 bokse papier aan die skool te skenk sodat geen leerder benadeel word nie. Peter Smith, die skoolhoof, het die papier met dank ontvang en saamgestem dat die versoek nie die regte boodskap oorgedra het nie. Geen leerder sal benadeel word nie.

“Ons besef dat skole swaarkry in die huidige ekonomiese klimaat, maar leerders kan nie as gevolg daarvan benadeel word nie. Dit is ook nie regverdig dat alle gesinne, ongeag die aantal kinders in die skool, dieselfde aantal papier moet gee nie. Ons is bly dat die skoolhoof ons redenasie ingesien het en ons glo dat die skool in die toekoms bedag sal wees op soortgelyke situasies,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die omsendskrywe is intussen reggestel nadat AfriForum met die skoolhoof vergader het.

Soortgelyke plasings