|

AfriForum-tak in Klerksdorp help om Doringkruin op te ruim

Die gemeenskap van Doringkruin, ’n woonbuurt in Klerksdorp, het begin om eienaarskap van hulle woonbuurt te neem. Hulle het op 28 Mei die pad wat in Doringkruin ingaan, begin skoonmaak.

Inwoners het hul eie toerusting vir gebruik beskikbaar gestel en ook self gras gesny, ander inwoners het sleepwaens en bossiekappers beskikbaar gestel en ook werk geskep vir dagloners. Die vrywilligers het gesmul aan worsbroodjies wat deur die plaaslike Spar geborg is en ander verbygangers het ook deur die loop van die dag verversings afgegee om dankie te sê. Die plaaslike AfriForum-tak het ook toerusting en hulp beskikbaar gestel vir die aksie.

Die gemeenskap word gevra om deel te word van hierdie projek. Doringkruin is maar net die eerste woonbuurt wat getakel word. Die doelwit is dat elke woonbuurt weer ’n spogbuurt sal word.

Frans Roos, die takvoorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp, bedank al die lede en borge wat bydraes lewer. “Ons het nodig dat inwoners en besighede eienaarskap neem van hulle eie areas,” sluit Roos af.

“Dit was ’n wonderlike inisiatief van hierdie buurt se inwoners en dit is ’n voorreg dat ons as die AfriForum-tak kan deel wees hiervan. Ek is seker hierdie gaan voortgesit word in al die ander woongebiede ook,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Word deel van die oplossing: SMS Klerksdorp na 45344 (R1)

Soortgelyke plasings