| |

AfriForum-tak in Potchefstroom nader Groen Skerpioene oor riool in Mooirivier

AfriForum se Potchefstroom-tak het die grootskaalse rioolstorting wat tot die besoedeling van die Mooirivier lei by die Groen Skerpioene aangemeld nadat die J.B. Marks Plaaslike Munisipaliteit geen poging aangewend het om dié storting te stop nie. Dít volg nadat die tak op 23 Julie 2020 ’n skrywe aan die munisipaliteit gerig het oor die rioolstorting by die pompstasie langs Govin Mbekilaan. Dié storting veroorsaak dat riool deur die vlei vloei en in die Mooirivier beland. Die tak het die munisipaliteit tot 29 Julie kans gegun om die probleem op te los, maar niks is egter hieraan gedoen nie.

Dít laat die plaaslike AfriForum-tak daarom met geen ander keuse as om die saak by sowel die provinsiale regering as die Groen Skerpioene aan te meld nie. Volgens Lieb Venter, omgewingsakebeampte by die Potchefstroom-tak, word alle boerderyaktiwiteite (veesuiping en besproeiing) tans reeds deur die storting bedreig. “Hierdie storting veroorsaak dat kiloliters rioolwater in die reeds besoedelde Vaalrivierstelsel beland. Dit kan eenvoudig nie geduld word nie.”

“Dit is verskriklik dat die munisipaliteit net eenvoudig nie vir die natuur of inwoners omgee nie. AfriForum kan nie anders as om die saak in ’n ernstige lig te beskou nie. Die situasie is ’n bedreiging vir inwoners, die OPM Prozesky Voëlreservaat, die vleiland en die Mooirivier. Dit is ook nie die enigste rioolstorting wat tans in Potchefstroom plaasvind nie en daarom kan AfriForum beslis nie die saak daar laat nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Potch” na 45351 (R1) en raak betrokke.

Soortgelyke plasings