|

AfriForum-tak in Ventersdorp kies nuwe bestuur en takel verval

Die AfriForum-tak in Ventersdorp het op 24 Januarie 2022 ’n nuwe takbestuur verkies uit nominasies van die taklede. Die nuwe bestuur is Tiaan Janse van Rensburg (voorsitter), Sias Woite (ondervoorsitter en plaaslikeregeringsakebeampte), Rika Meyer (sekretaris), Herman Meyer (tesourier), Johan Pretorius (plaaslikeregeringsakebeampte), Egbert Fourie (omgewingsakebeampte), Johan Pretorius (omgewingsakebeampte), Herman Meyer (veiligheidsbeampte), Orten van Jaarsveld (veiligheidsopleiding: skole), Ockert Brits (veiligheidsbeampte) en Dries Kotze (kultuur- en erfenisbeampte). Daar is baie energie in die span en daar sal beslis ’n verskil in Ventersdorp gemaak word.

Die tak het reeds onder leiding van Woite weggespring en 40 sakke teer gebruik om die slaggate in Markstraat te vul. ’n Werker is ook aangestel om die gras in Cochrane-, Mark-, Jakob Wilkensstraat en Ysselweg te sny. Die tak wil graag ’n grassnyer aankoop om die gras netjies te hou aangesien die lang gras motoriste se sig belemmer en ook skuilplek bied aan misdadigers.

“Ek is opgewonde oor die nuwe bestuur, want ek kan sien dat hulle baie lus is om ’n verskil in Ventersdorp te maak. Ek glo dat daar nog baie projekte soos hierdie teer- en grassnyprojekte sal wees. Ek wil ’n beroep op die gemeenskap doen om betrokke te raak, dit is immers julle dorp waarvoor julle lief is,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

SMS “Ventersdorp” na 45344 (R1) om by AfriForum se Ventersdorp-tak betrokke te raak.

Soortgelyke plasings