|

AfriForum-tak in Wolmaransstad vergader met waarnemende munisipale bestuurder

In antwoord op die petisie wat AfriForum onlangs onder die inwoners van die Maquassi Hills Plaaslike Munisipaliteit van stapel gestuur het, het die nuwe waarnemende munisipale bestuurder, Thuli Karelse, ’n vergadering versoek met die AfriForum-tak in Wolmaransstad. Die vergadering het 12 April 2022 plaasgevind en Karelse het heelhartig saamgestem dat die probleme waaroor die tak die petisie begin het, inderdaad groot probleme is.

Die probleme wat in die petisie genoem is, is:

  • die algemene toestand van die strate, waar dit in die meeste gevalle nie meer moontlik is om net slaggate te herstel nie
  • straatligte wat nie werk nie en wat veiligheidrisiko’s inhou en ongelukke veroorsaak
  • die huidige watersituasie
  • water- en rioollekke
  • die vullisterrein, waar AfriForum hulp aangebied het en reeds op 4 Oktober 2021 ’n ooreenkoms opgestel het wat bepaal dat AfriForum die munisipaliteit met kundigheid sal ondersteun rakende die vullisterrein. Die memorandum van verstandhouding is tot op hede nog nie geteken sodat die werk kan begin nie.

Wat die strate betref, het die munisipaliteit ’n kontrakteur aangestel wat besig is om onder meer Vrede- en Leaskstraat te skraap. Christo Smit, voorsitter van die AfriForum-tak in Wolmaransstad, het Karelse daarop gewys dat die stormwaterkanale en dreine eers oopgemaak sal moet word, anders sal die strate nie heel bly nie. Smit het Karelse na die betrokke stormwaterkanale geneem om haar te wys wat die probleem werklik is. Die kontrakteur wat aangestel is om die N12 in Wolmaransstad te herbou, sal volgens Karelse binnekort begin. Die pad tussen Wolmaransstad en Leeudoringstad word ook herstel.

Karelse het onderneem om aandag te gee aan die straatligte wat nie werk nie en het dit aan swak bestuur en ’n gebrek aan onderhoud toegeskryf. Wat die huidige watersituasie betref, het Smit daarop gewys dat daar boorgate is wat in werking moet kom om die dorp se waterkapasiteit te ondersteun. Karelse het aangedui dat hulle besig is om beheer vanaf Sedibeng Water oor die boorgate te kry om dit sodoende werkende te kry. Sy is ook besig om oplossings te kry vir die water- en rioollekke.

Karelse was nie bewus van die ooreenkoms met AfriForum wat nog nie geteken is nie en waardeer die feit dat AfriForum hulp aanbied in die vorm van spesialiste wat die munisipaliteit van raad kan bedien. Indien dit haalbaar is, sal AfriForum ook op ander gebiede help.

“Ons was aangenaam verras met die ontvangs wat ons by die munisipale bestuurder se kantoor gekry het. Karelse sien werklik die probleme raak en wil ’n daadwerklike verskil maak. Dit is sleg dat sy volgens wet net vir drie maande waarneem en dat daar dan weer iemand anders in haar plek aangestel sal word. Geen mens kan ’n sinkende skip in slegs drie maande omdraai nie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Volgens Smit is dit verblydend dat die waarnemende munisipale bestuurder AfriForum se insette waardeer en onderneem om die organisasie op hoogte te hou van gebeure.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Wolmaransstad” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings