|

AfriForum-tak in Worcester plant bome

AfriForum se Worcester-tak het op 18 September 2021 vyf witstinkhoutbome (Celtis africana) by die Langerugskool geplant as deel van die organisasie se jaarlikse boomplantmaand.

“Die tak het dit goed gedink om bome by die Langerugskool te plant. Die skool, sy leerders en personeel is welbekend in die gemeenskap aangesien die skool gespesialiseerde onderrig aan leerders met spesifieke leerhindernisse bied,” sê Bianca Venter, AfriForum se omgewingsakeportefeuljebeampte van die Worcester-tak. 

“Ons bedank elke vrywilliger wat deelgeneem het aan die projek en dit was verblywend om te sien hoe die bome met dankbaarheid ontvang en geplant is,” sê Venter verder.

“Dit is belangrik om daarop te let dat indien die gemeenskap witstinkhoutbome plant dat dit die Celtis africana is wat ’n inheemse boom is. Die Celtis africana is ook droogtebestand en sal goeie skaduwee aan die leerders in die warm somersmaande bied,” sê Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die projek betrokke te raak en deel te word van ’n vooruitstrewende en groener toekoms: SMS “Worcester” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings