|

AfriForum-tak rig skrywe aan Sedibeng Water en Matjhabeng-munisipaliteit oor waterkrisis

Die AfriForum-tak in Welkom het op 8 Februarie ’n dringende brief gerig aan sowel die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit as Sedibeng Water om hulle op terme te plaas oor die gedurige gebrek aan waterlewering in die Welkom-distrik. Dit volg nadat die tak voortdurend met die rolspelers kommunikeer, wat blyk om op dowe ore te val.

Die brief het ook gevolg nadat lede van die gemeenskap die AfriForum-tak om hulp genader het oor die onlangse waterkrisis. AfriForum het onmiddellik noodwaterpunte beskikbaar gestel, soos in Desember 2021.

’n Dringende beroep word op die munisipaliteit gedoen om dadelik aandag te skenk aan die voortdurende gebrek aan waterlewering aan die gemeenskap van Welkom en die omliggende dorpe. Munisipaliteite het ’n Grondwetlike plig om te verseker dat gemeenskappe van water voorsien word.

Volgens Chris Morgan, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, is dringende ingryping nodig en dit is belangrik om aanhoudende druk op die munisipaliteit te plaas om die krisis uit die weg te ruim. AfriForum wil graag toesien dat hierdie voortslepende probleem opgelos word.

“Die gebrek aan waterlewering in die Welkom-distrik is ’n groot probleem wat dringende ingryping van die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit benodig. Daar is gereeld watertekorte weens wanbetaling deur die munisipaliteit aan hul verskaffers of ’n gebrek aan onderhoud ten opsigte van pompe. Daar ontstaan ook onder meer talle probleme vir die verskeie verskaffers as gevolg van sulke wanbetalings en die omstandighede verander dikwels. Die gemeenskap verstaan dat ’n proses gevolg moet word, maar dan moet die munisipaliteit ook oop kaarte speel en hul plig teenoor die gemeenskap nakom.”

Morgan sê ook dat die probleem ’n geweldige gesondheidsrisiko vir die gemeenskap inhou en dat toegang tot water ’n basiese mensereg is. Watertenks behoort uitgestuur te word en water moet volgens ’n skedule gelewer word wat aan die publiek bekend gemaak word.

“Ons kan nie bloot terugsit en toekyk hoe mense in hierdie omstandighede leef nie. AfriForum sal indien nodig, die hof nader om te verseker dat inwoners die nodige dienste ontvang.”

Die AfriForum-tak moedig die gemeenskap aan om munisipale probleme by die munisipaliteit aan te meld. Indien hulle geen reaksie kry nie, kan hulle die tak daarvan in kennis stel.

AfriForum se Welkom-tak nooi die gemeenskap uit om by die organisasie se toekomstige projekte en aksies betrokke te raak. Sluit by AfriForum aan en word deel van die oplossing: SMS “Welkom” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings