AfriForum-tak in Secunda en plaaslike polisie beveg misdaad saam


Die AfriForum-tak in Secunda het sy samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevestig deur ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie 2017 tussen AfriForum en die SAPD in Centurion gesluit is, op 7 Februarie 2017 aan kol. Willie Nel, bevelvoerder van die plaaslike polisiestasie, te oorhandig.

“Ons is baie opgewonde oor dié ooreenkoms, wat ten doel het om ’n geïntegreerde benadering te volg om veiligheid te verbeter en gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad aan te moedig,” sê Hillel Coetzer, AfriForum se streekskoördineerder vir Mpumalanga-Wes.
“Hierdie ooreenkoms versterk ons vermoë om ’n verskil in ons gemeenskap te maak. Ons moet strukture binne ons gemeenskappe skep om ons inwoners te beveilig. Ons wil egter plaaslike inwoners aanmoedig om by ons inisiatiewe betrokke te raak sodat die strukture wat ons daarstel versterk kan word in die stryd teen misdaad,” sê Hennie Pretorius, voorsitter van die AfriForum-tak in Secunda.

Coetzer het bygevoeg dat AfriForum beplan om sy betrokkenheid binnekort te verhoog deur middel van samewerking met plaaslike GPF-strukture.

Soortgelyke plasings