|

AfriForum-tak versterk inisiatiewe met skenkings aan twee steunpilare in Helderberg-gemeenskap

AfriForum se Helderbergkom-tak het die afgelope maand twee belangrike inisiatiewe in die Helderbergkom ondersteun met broodnodige skenkings. Dié steun is in samewerking met verskeie plaaslike ondernemings gelewer aan die Somerset West Night Shelter en die Somerset West Village Garden wat op hul beurt ’n belangrike rol speel in die versorging en opheffing van hawelose mense in dié gebied.

Nagenoeg 1 000 hawelose mense woon tans in die Helderbergkom-gebied en die skenkings wat die Helderberg-tak gemaak het, sal Somerset West Night Shelter en Somerset West Village Garden sterk in die werk wat hulle doen.

Somerset West Night Shelter is ’n skuiling wat sedert 1988 verskeie basiese dienste aan hawelose volwassenes bied. AfriForum het vloerteëls, toiletware (insluitende seep en tandepasta) sowel as beddegoed aan dié skuiling geskenk vir die verbetering van hul fasiliteite en om aan verskeie mees basiese behoeftes van die skuiling en die individue wat daar bygestaan word, te bied.

Somerset West Village Garden verskaf sedert 2015 vars produkte aan die plaaslike gemeenskap wat verbou word deur middel van ’n werks- en opleidingsprogram vir hawelose individue. AfriForum se Helderbergkom-tak het groentesaad, wat deur saadmaatskappy Hygrotech geskenk is, aan dié gemeenskapstuinprojek oorhandig. 

AfriForum se steun aan hierdie gemeenskapsinisiatiewe is moontlik gemaak deur skenkings van Hygrotech, Cathy en Jens Smith van Chalk & Cheese Paint and Décor en Sanet Robbins van Colgate.

Volgens Ben Cronjé, voorsitter van AfriForum se Helderbergkom-tak, pak dié tak deur die loop van die jaar verskeie gemeenskapsprojekte aan. Hy moedig die publiek aan om by hierdie plaaslike tak aan te sluit en sodoende deel te word van ’n netwerk van gemeenskapslede en ondernemings wat werklik ’n verskil in die Helderberg-gemeenskap maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings