AfriForum-tak in Warmbad maak hul samewerking met plaaslike polisie amptelik


Die AfriForum-tak in Warmbad het op 9 Maart 2017 sy samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bevestig deur ’n afskrif van die samewerkingsooreenkoms wat op 16 Januarie 2017 tussen AfriForum en die SAPD in Centurion gesluit is, aan kol. Lindie Marx, bevelvoerder van die Warmbad-polisiestasie, te oorhandig.

“Ons is baie opgewonde oor dié ooreenkoms, wat ten doel het om ’n geïntegreerde benadering te volg tot die verbetering van veiligheid en om gemeenskapsamewerking in die bekamping van misdaad aan te moedig,” sê Chris Boshoff, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

In die samewerkingsooreenkoms onderneem die partye om:

  • – mekaar behulpsaam te wees wanneer nodig en waar toepaslik;
  • – met mekaar te skakel om vas te stel hoe AfriForum sy aktiwiteite met die strategiese doelwitte van die SAPD kan belyn; en
  • – te verseker dat inligting wat van gevestigde AfriForum-gemeenskapsveiligheidstrukture verkry is en wat die SAPD behulpsaam kan wees om misdaad te voorkom, te bestry en te ondersoek, met mekaar gedeel word.

“Hierdie ooreenkoms bring mee dat ons selfs ’n groter verskil in ons gemeenskap kan maak. Deur saam te werk kan ons misdaad bekamp, ongeag die organisasie waaraan jy behoort,” sê Janes Boshoff, voorsitter van AfriForum se Warmbad-tak.
“Ons gemeenskap se veiligheid is nie net een persoon se verantwoordelikheid nie, maar die hele gemeenskap s’n,” voeg hy by.

Soortgelyke plasings