AfriForum-tak in Winburg skep hoop tydens boomplantmaand


Die AfriForum-tak in Winburg het nege bome as deel van dié burgerregte-organisasie se boomplantmaand geplant.
Volgens Michelle Peens, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Vrystaat, beoog die organisasie om vanjaar landwyd meer as 2 000 bome te plant.

“Ons besef nie altyd die belangrikheid van bome nie en daarom is dit ons werk om bewustheid in die gemeenskap as ’n geheel – maar veral ook onder ons jongmense – te skep dat ons as mense nie sonder bome kan funksioneer nie,” sê Peens.

AfriForum fokus jaarliks op sowel ’n boomspesie wat algemeen voorkom as ’n skaars boomspesie. Die algemene boom vir 2018 is die opregte geelhout (Podocarpus latifolius), terwyl die skaars boom die grootwitgat (Boscia albitrunca) is. AfriForum moedig dorpe aan om inheemse bome te plant wat in hul omgewings aard.

“Boomplantmaand bied die perfekte geleentheid om ’n blywende verskil in ons gemeenskappe te maak. Bome het egter deurlopende sorg nodig om tot voordeel van almal te floreer en die AfriForum-tak in Winburg onderneem om hierdie sorg te verskaf. Dit is simbolies daarvan dat ons hier is om te bly en hoop vir die toekoms het,” sê Peens.

Die tak moedig die gemeenskap aan om by die veldtog betrokke te raak en deel te word van ’n groener toekoms.

Soortgelyke plasings