|

AfriForum-tak woeker in Sasolburg

Die AfriForum-tak in Sasolburg het gedurende Februarie nie geskroom om hul hande vuil te maak om die algehele netheid van die dorp te verbeter nie.

Altesaam 33 ha gras is die afgelope maand in verskillende areas gesny, waaronder Snyman, Jan Smuts, Mosega, Magersfontein, De Wildt, Toon van den Heever, Totius, Nuwekloof, Koeberggroenstrook, Opperman, Pres Swart, Van Wouw, Rembrand, JG Strydom, Bloukrans, Lumiêr, Vaalpark Primêr, Wildskamp Vaalpark, Hoёveld Tuine, Helipad Gouwsstraat, Paardeberg, Minnaar, Da Gama en Wildskamp Waterkant.

Intussen is ’n aantal sypaadjies ook netjies gemaak, terwyl afgesaagde bome opgesny is.

Verder kon die tak ook 73 slaggate in Sasolburg vul, danksy die publiek wat die teer vir hierdie projek geskenk het.

“Sasolburg se AfriForum-tak gaan werklik van krag tot krag, omdat die AfriForum-lede self inspring en die werk doen. Lede kan die toerusting leen en dit is veral opmerklik dat soveel meer gedoen word vandat die lede hul hande opsteek om ’n verskil in die dorp te maak,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Johan Cooks, voorsitter van die Sasolburg-tak, bedank die lede wat hulle deel doen om ’n verskil in Sasolburg te maak.

“Ons werk eerskomende Saterdag in die Hoёveldse Tuine en doen ’n beroep op gemeenskapslede om te kom help. Ons doel is om die Tuine weer ’n spogplek te maak waar die gemeenskap die natuur kan kom geniet. Die Tuine moet mooi, skoon en veilig wees en daarvoor het ons elkeen se hulp nodig,” sluit Cooks af.

Die gemeenskap word aangemoedig om by hierdie AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: SMS “Sasolburg” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings