|

AfriForum takel enorme grondeis in Centurion-gebied

AfriForum se regspan het die grondeisekommissie skriftelik in kennis gestel van die organisasie se voorneme om ’n grondeis teen te staan wat op nagenoeg 4 000 ha residensiële grond in die Centurion-omgewing ingestel is.

Die restitusie-eis se waarde beloop sowat R4 miljard. Dit is deur mnr. Zulu Kleinbooi Mahlangu namens 39 gesinne ingestel.

Die meeste van die eisers is klein- en agterkleinkinders van oorledenes wat in 1968 in die gebiede gewerk het. Luidens die verslag wat by die grondeisekommissaris ingehandig is en op grond waarvan die eis gebring is, is daar geen bewyse van enige verblyfreg wat die eisers se voorgeslagte gehad het nie.  

Die hedendaagse gebiede wat deur die eis geraak word, sluit in Rooihuiskraal, The Reeds, Kosmosdal, Heuweloord, Highveld, Zwartkop, Midstream en Celtisdal.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het op ’n mediakonferensie gesê die organisasie beskik reeds oor die nodige hulpbronne om onmiddellike aksie teen dié eis te neem. “Ons wil ons lede en die betrokke gemeenskap verseker dat die aanval op hul eiendom nie ongesiens verbygaan nie. AfriForum het reeds ’n aksieplan gereed en is besig om die nodige stappe te doen om hierdie aanval op privaateiendomsreg teen te staan.”

Cameron meen dit is onregverdig dat daar met die ondeurdagte eis teen huidige eienaars van eiendom gediskrimineer word. Niemand van hulle is enigsins in die proses geken of behoorlik oor die voorgenome eis ingelig nie.

Volgens Cameron rig eise soos dié, wat die eerste keer in Julie verlede jaar in die Staatskoerant afgekondig is, enorme skade aan en beïnvloed dit eiendomswaarde negatief. “Die eis is wat ons betref ’n opportunistiese skuif. Daar is geen duidelikheid oor hoe dit die tussen 4 000 en 6 000 inwoners gaan raak nie en wat die impak op die gemeenskap sal wees nie.”

Dr. Eugene Brink, strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum, meen die verslag ter ondersteuning van die eis, is swak, uiters vaag, onvolledig en bevat geen behoorlike navorsing nie. “Dit leun swaar op anekdotiese verhale van die eisers.”

Brink meen eise soos dié kan ’n presedent skep en as dit eenvoudig lukraak goedgekeur word ’n enorme las op die staatskas plaas terwyl belastingbetalers reeds swaar trek.

Marnus Kamfer, regs-en-risiko-bestuurder by AfriForum, het gesê behoorlike navorsing sal oor die relevansie van die eis gedoen word. Daarvoor sal bepaalde kundiges ook betrek word.

AfriForum gaan op 19 Februarie 2019 om 19:00 ’n gemeenskapsvergadering by Leriba Lodge hou om gemeenskapslede wat onroerende eiendom in Centurion besit toe te spreek. Tydens dié vergadering sal gemeenskapslede van al die feite rondom die grondeis ingelig word, asook van die stappe wat nou gevolg sal word, wat die organisasie se plan van aksie is en wat reeds gedoen is.

Die publiek word aangemoedig om hul mandaat aan AfriForum te gee. RSVP vir dié gemeenskapsvergadering by www.grondeis.co.za

 

Soortgelyke plasings