|

AfriForum-takke gaan honderde bome tydens Septembermaand plant

 

Deur Alet Rademeyer

Sedert 1983 word Nasionale Boomplantmaand elke jaar in September gevier.

AfriForum het in 2011 ook besluit om hierdie omgewingsvriendelike inisiatief te steun en sedertdien het die organisasie en sy takke meer as 12 000 bome regoor die land geplant.

AfriForum het boomplantmaand afgeskop deur ses Natal-vyebome (Ficus natalensis) by The Lucky Lucy Foundation buite Malmesbury te plant.

Twee bome is vanjaar as nasionale bome geïdentifiseer naamlik die Kaapse Essenhout (Ekebergia Capensis Cape Ash) en die Kremetartboom (Adansonia Digitata).

Die Essenhout kom voor in Suid-Afrika se kus- en bergwoude vanaf Knysna tot by KwaZulu-Natal en ook in Mpumalanga en Limpopo. Dié boom kan ’n hoogte van tot 30 meter bereik. Dit is ook ’n goeie boom om vrugte vretende voëls soos Loeries, houtkapper en muisvoëls te lok.

Die Kremetart, wat ook soms “aapbroodbome” genoem word, is bladwisselend met ’n reuse geswelde stam. Die Adansonia Digitata is na die Franse wetenskaplike Michel Adanson vernoem. Dit kan tot 25 meter hoog word en ’n deursnee van tot 16 meter bereik.

Dr. David Livingstone het die Kremetartboom op ’n keer ’n omgekeerde wortel genoem. Olifante en bobbejane is veral lief vir die vrug van dié boom.

Volgens Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder vir Omgewingsake, is die boomplant-projek deel van ’n poging om te help om ’n groener toekoms vir toekomstige generasies te verseker.

AfriForum se boomplantmaand behels dat die organisasie se 140 takke regoor die land meer as 2 500 bome gaan plant.

“In die onsekere tyd waarin ons leef – veral midde-in die COVID-19-pandemie en die inperking wat daarmee gepaard gaan – is dit belangrik om te weet dat ons die begin van lente en ’n nuwe begin met só ’n projek kan vier. Om vanjaar ’n boom te plant, gee ons moed vir die toekoms. ’n Boom kan ’n simbool van oorlewing wees, want oor tien jaar kan jy daarna kyk en sê: ‘Ons het oorleef,’” meen De Klerk.

AfriForum moedig ook sy takke en gemeenskapslede aan om bome by hul huise, skole, kerke, gemeenskapsentrums, ouetehuise en parke te plant.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar nie, maar wys ons ook dat ons hoop vir die toekoms het. Hierdie is ’n nuwe seisoen vir Suid-Afrika. Net soos wat inheemse bome ’n belangrike rol speel ten opsigte van die land se welstand, simboliseer dit ook die land se mense. Ten einde Suid-Afrika te maak werk, moet ons almal ons deel doen. Bome is ook baie belangrik vir die ekosisteem,” sê De Klerk.

De Klerk wys ook op die talle voordele wat bome het soos dat dit help met die vervaardiging van suurstof en gronderosie teenwerk. Bome verskaf ook papier en skaduwee vir mens en dier, terwyl vrugtebome ’n belangrike voedselbron is.

Vir die res van die maand gaan bome ook in Orania, die Kaapse metropool, George, Upington, Ellisras, Thabazimbi, die Oos-Rand, Standerton, die Moot, Rustenburg, Vryburg, Bloemfontein, Sasolburg, Potchefstroom en Klerksdorp geplant word.

 

 

Soortgelyke plasings