| | |

AfriForum-takke help gemeenskap met kosskenkings

AfriForum se Moot- en Oos-Moot-tak het hande met ander organisasies gevat om mense in nood in hul gemeenskap te ondersteun. Die twee takke het onder meer sedert die staat van inperking ingestel is gehelp om kos te voorsien.

Die Moot-tak het met befondsing gehelp om in samewerking met die Mattheus 14-omgeeprojek 237 gesinne van kos en ander noodsaaklike items te voorsien. Skenkings is broodnodig en mense kan brood, melk, meel, blikkieskos, koffie, tee, suiker, vars groente, bone, soja, seep, tandepasta en toiletpapier skenk.

“Dit is merkwaardig om te sien hoe die gemeenskap in die Moot saamstaan om hierdie krisis die hoof te bied. AfriForum se Moot-takbestuur en Mattheus 14-omgeeprojek werk baie hard om voedsel na behoeftiges in die omgewing te versprei. Ons is baie dankbaar vir al die skenkings wat tot dusver ontvang is en vir die harde werk wat ons strukture in die Moot verrig,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria.

Die Oos-Moot-tak het in samewerking met Fonz’s Frozen Foods ’n projek ten bate van Solidariteit Helpende Hand van stapel gestuur om dié organisasie se kosvoorraad, wat aan behoeftige gesinne geskenk word, aan te vul. Elize Berg, ’n inwoner, het reeds 40 gevriesde hoenders gekoop wat aan Helpende Hand geskenk word.

“Met hierdie projek ondersteun mense nie net Helpende Hand nie, maar ook ’n plaaslike sakeonderneming wat terugploeg in die gemeenskap. Die Oos-Moot-tak gebruik hierdie krisis om na ander organisasies uit te reik en bou en versterk in die proses bande,” sê Steinberg.

Mense wat kos aan die Moot-tak en die Mattheus 14-omgeeprojek wil skenk, kan die volgende takbestuurslede skakel: Gerhard Hildebrand (voorsitter) by 082 464 2155, Werner Schultz (tesourier) by 082 267 5240 of Colette Schultz (sekretaris) by 082 331 8406.

Vir meer inligting of navrae oor die Oos-Moot-tak se hoenderprojek, skakel Fonnie Pienaar by 082 928 4934.

Raak vandag nog by jou naaste AfriForum-tak betrokke en wees deel van die verskil: SMS jou naam na 45341 (R1).

Soortgelyke plasings