| |

AfriForum-takke help gemeenskappe tydens COVID-19-pandemie

AfriForum se plaaslike takke in die Vaaldriehoek en Wes-Rand het die afgelope maand meer as 2,5 ton voedsel aan 1 806 behoeftige gesinne uitgedeel. Dié aksies is in samewerking met die COVID-19-taakspan – gestig deur die burgerregteorganisasie AfriForum, die familieboernetwerk Saai en Solidariteit Helpende Hand – aangepak om gemeenskappe tydens die landwye inperking te ondersteun.

Dit volg nadat ’n groot nood in gemeenskappe ontstaan het ná sommige mense nie tydens die inperkingstydperk hul salaris ontvang het nie of selfs hul werk verloor het as gevolg van ondernemings wat hul deure moes sluit.

Die takke in die distrik – Randfontein, Westonaria, Vanderbijlpark, Meyerton, Vereeniging, Fochville, Roodepoort, Krugersdorp en Heidelberg – het altesaam meer as R300 000 se waarde in voedsel, handreiniger en maskers versprei. Hierdie projekte is gefinansier vanuit skenkings, takfondse en die taknoodhulpfonds wat op die been gebring is gedurende hierdie tyd

“Dit is wonderlik om te sien dat gemeenskappe saamstaan en mekaar in dié moeilike tyd ondersteun. Baie van die kospakkies wat versprei word, is moontlik gemaak danksy skenkings wat ons by mense in die gemeenskap ontvang het. Dit sou nie moontlik gewees het om dié projek te dryf sonder die hulp van die gemeenskap nie,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaaldriehoek.

AfriForum het ook ’n noodfonds vir elke tak geskep wat gebruik word om hierdie aksies volhoubaar voort te sit. Lede van die publiek kan skenkings aan die noodfonds maak wat weer gebruik word om noodsaaklike produkte vir die behoeftiges aan te koop. Mense wat skenkings wil maak, kan hul naaste tak kontak vir meer inligting of die taknoodfonds-blad op AfriForum se webtuiste besoek.

Soortgelyke plasings