| | |

AfriForum-takke help skole met COVID-19-toerusting

Die AfriForum-takke in Lydenburg en Witrivier het die afgelope tyd verskeie skole ondersteun met hulppakket- en termometerskenkings sodat dié skole ooreenkomstig die regulasie kon heropen.

AfriForum se Lydenburg-tak het, bykomend tot die skolehulppakkette wat vroeër geskenk is, agt termometers aan Hoër- en Laerskool Lydenburg geskenk. Skole neem elke oggend leerders se temperatuur voordat hulle die terrein mag binnegaan. Dié proses neem egter tyd en daarom het die tak besluit om bykomende termometers aan te koop.

“Ons verseker hiermee en met die hulppakkette wat ons reeds geskenk het dat leerders veilig kan skool toe gaan ten spyte van COVID-19 en die risiko’s wat dit inhou,” sê Erich Venter, voorsitter van AfriForum se Lydenburg-tak.

AfriForum se Witrivier-tak het in samewerking met AfriForum Onderwys hulppakkette aan Kaalvoetjies Kleuterskool en Butterflies & Bunnies geskenk. Elke pakket bevat handreiniger, ’n termometer en ’n handreinigerstaander.

“Die inperking en die COVID-91-pandemie was tot groot nadeel vir skole en het sake vir skole bemoeilik. Ons is dankbaar om skole op dié wyse te kan help,” sê Pieter Skead, voorsitter van AfriForum se Witrivier-tak.

Die takke moedig die gemeenskap aan om by dié en ander soortgelyke projekte betrokke te raak. Sluit by AfriForum se Lydenburg- of Witrivier-tak aan: SMS “Lydenburg” of “Witrivier” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings