| |

AfriForum-takke in Bloemfontein hou omgewing skoon en veilig

Die AfriForum-takke in Bloemfontein het in Julie verskeie skoonmaak-aksies en veiligheidsinisiatiewe aangepak in Langenhovenpark, Uitsig, Universitas, Wilgehof, Hospitaalpark, Rayton-Heuwelsig, Bloemfontein-Noord , Bloemfontein-Noord Landelik en Fichardtpark.

In Fichardtpark, Uitsig, Generaal De Wet en Pellissier is vullis opgetel wat in die strate gelê het, sowel as in die parkie waar rommelversamelaars deur rommel sorteer en nie altyd die park skoonmaak ná die tyd nie. In Hospitaalpark was daar gefokus om die onkruid te verwyder in Pasteurrylaan sowel as die sypaadjies skoongemaak.

Die Rayton-Heuwelsig-tak het reeds drie parke as deel van hul volhoubare skoonmaakprojek skoongemaak en word in hierdie projek ondersteun deur Anchor of Hope. Die parke wat tans deur die tak skoongemaak word is die parke in Lucas Steyn-, Flockemanstraat en David Bothasingel. Hierdie tak het ook hul nuutste volhoubare skoonmaakaksie afgeskop in Reyneckelaan en hierdie aksie vind in samewerking met City Run plaas.

Die AfriForum-buurtwagte in Bloemfontein het op 8 Julie 2022 in hul onderskeie gebiede aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem om polisiëringsigbaarheid te verhoog. Die patrollie is in samewerking met die SAPD, die nooddienste, verskeie sekuriteitsmaatskappye, plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums en ander veiligheidsinstansies uitgevoer.

Altesaam 173 AfriForum-lede in Bloemfontein en 43 ander rolspelers het aan die patrollie deelgeneem en 2 108 km in 84 voertuie afgelê. Die patrollie het omstreeks 20:00 begin en tot 06:00 die volgende oggend voortgeduur.

Die buurtwagte het hulp met verskeie voorvalle verleen en drie operasies is suksesvol uitgevoer met die AfriForum Lugsteun span en hul hommeltuigtoerusting.

’n Totaal van 312 patrollies is deur 78 patrollielede afgelê in Julie. Die volgende insidente is hanteer en aangemeld:

  • Rayton-Heuwelsig-buurtwag het sewe veldbrande geblus en ook 17 bosslapers verwyder wat ’n moontlike risiko vir inwoners kon inhou.
  • Uitsig-buurtwag het persone verwyder wat in velde slaap gedurende ’n beplande operasie. Poging tot diefstal van gasbottels by ’n winkelsentrum voorkom deur aktiewe patrollies in die gebied te ry ná die buurtwag deur ’n motorwag ingelig is van verdagte bedrywighede in die omgewing.
  • Die Wilgehof-buurtwag het ’n verdagte, wat ’n fiets in Malanstraat in Wilgehof gesteel het, arresteer en oorhandig aan die SAPD.
  • Bloemfontein-Noord se buurtwag het gesteelde lugversorgingseenhede en hekmotors gevind. Die verdagtes is gearresteer en oorhandig aan die SAPD vir verdere ondersoek.
  • Die Langenhovenpark-buurtwag het ’n suksesvolle operasie uitgevoer en verdagtes gearresteer wat brandstof van ’n vliegtuig gesteel het en oorhandig het aan die SAPD vir verdere ondersoek.
  • Die Fichardtpark-buurtwag het ’n vermiste persoon opgespoor en in Wilgehof by ’n huisbrand die toneel beveilig en die brandweer ontbied.

Die Bloemfontein-takke se sekuriteit- en mediese vennote, VR-Security en VR-Medical staan ook die AfriForum911 voertuie by. Die AfriForum911 Reaksie Eenheid het AfriForum-lede bygestaan met 44 klagtes en die Mediese Reaksie voertuig het die gemeenskap bygestaan met 49 noodgevalle, wat motorongelukke en ander mediese noodgevalle insluit.

Die AfriForum-takke het ook sedert verlede jaar deurlopende instandhoudingswerk gedoen by die President Brand Begraafplaas asook die Brits Monument by die Ou Presidensie. Die takke word ook in hierdie projekte bygestaan deur Anchor of Hope.

“Sigbaarheid speel ’n deurslaggewende rol in misdaadbekamping en AfriForum se Bloemfontein-buurtwagte sal voortdurend projekte aanpak en gereelde patrollies organiseer om misdaad in samewerking met die SAPD en verskeie sekuriteitsdienste te bekamp. Dit is ook wonderlik om te sien dat ons buurtwagte met nuwe patrolleerders versterk word om die gemeenskap by te staan om misdaad te bekamp. Ons nooi lede van die gemeenskap uit om deel te word van die dinamiese span patrolleerders. Hierdie suksesse is ook te danke aan die gemeenskap wat ons in staat stel om hierdie aksies aan te pak,” sê Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

AfriForum se vullisverwyderingsdienste het reeds op 1 September 2020 begin weens die munisipaliteit se versuim om hierdie basiese diens te verrig en talle AfriForum-lede sowel as nie-lede maak gebruik van hierdie vullisverwyderingsdiens. Die lede van die gemeenskap word ook aangemoedig om aan te sluit sodat hul verseker kan wees dat hul vullis op tyd verwyder sal word.

SMS “AfriForum” na 45344 (R1) om by AfriForum se Bloemfontein-takke aan te sluit en saam hoop te skep.

Soortgelyke plasings