AfriForum-takke laaf dapper helde tydens verwoestende Suid-Kaapse brande


AfriForum se takke in George, Kaapstad-Noord, Mosselbaai en Oudtshoorn het hande gevat en gesamentlik 1 500 waterbottels aangeskaf en by die George-brandweerstasie afgelewer – ’n lafenis vir die brandweermanne wat die versengende hitte van die Suid-Kaapse brande moet trotseer.

Stormsterk winde, soms tot 60 km/h, het veroorsaak dat die brande buite beheer raak en erge verwoesting in die Suid-Kaap saai. Met die Knysna-brande nog vars in Suid-Kapenaars se geheue, is informele nedersettings en huise in sowel die George- as Karatara-omgewing voorkomend ontruim.

“Dit is tydens rampe soos dié dat ’n mens die waarde van ’n hegte gemeenskap se betrokkenheid waardeer. AfriForum-lede huiwer nie om tydens noodsituasies in te spring en saam verantwoordelikheid vir ons omgewing te neem nie. Ons is trots op die vier AfriForum-takke wat tot dusver met die beskikbare Kaapstad-befondsing ’n verskil kon maak,” sê Arno Greyling, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.

Soortgelyke plasings