|

AfriForum-takke landwyd besig met #VegEnBou-veldtog

 

Gemeenskappe wat in die toekoms wil oorleef, sal toenemend dinge vir hulself moet doen omdat die staat nie sy verpligting gaan nakom nie.

As burgerregte-waghond glo AfriForum nie net in selfdoen nie. Die organisasie se meer as 140 takke pas dit ook toe deur verskeie inisiatiewe soos die #VegEnBou-veldtog, wat verlede maand in Upington in die Noord-Kaap afgeskop het.

Die #VegEnBou-veldtog is daarop gemik om gemeenskappe die geleentheid te gee om hoop in hul dorpe te skep deur verskeie gemeenskapaksies aan te pak wat ’n positiewe verskil maak.

Die tak in Upington het as deel van dié veldtog verskeie goedvoelaksies by die Oranjehof Tehuis Vir Bejaardes, wat tans sowat 90 bejaardes huisves, gehad.

Taklede en vrywilligers het ingespring en 14 spekbome by die ouetehuis geplant en ook hul tuin opgekikker. Spekbome is toppresteerders met die omskakeling van koolstofdioksied (CO2) in suurstof. Die bome lewe lank en is die ideale hulpmiddel teen aardverwarming.

Die tak het verder boeke ingesamel en aan die tehuis geskenk. Die inwoners is ook op ’n uitstappie na die gewilde Sakkie se Arkie-toeristebestemming geneem waar hulle met ’n middagete en vaart op die Oranjerivier bederf is.

Tydens die bejaardes se vaart het die tak ’n skoonmaakaksie langs die rivier aangepak waartydens byna 30 sakke vullis verwyder is. Daar is ook twee groot skoonmaakaksies by die dorpsingange gehou waartydens 280 sakke vullis opgetel en sowat sewe sleepwaens vol tuinafval weggery is.

AfriForum gaan vandeesmaand sy #VegEnBou-veldtog in Port Elizabeth voortsit.

 

Soortgelyke plasings