AfriForum-takke woon GOP-werkswinkel by


Verskeie AfriForum-takke het saam op 8 Junie 2018 ’n werkswinkel in Bellville bygewoon oor deelname aan die hersieningsproses van die takke se onderskeie munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP). Dié werkswinkel is deur Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, aangebied.
AfriForum-takke wat deelgeneem het, sluit in: Kaapstad-Noord, Velddrif, Helderbergkom, Worcester, Mosselbaai, Oudtshoorn, Hessekwa, Malmesbury en Williston. Hierdie werkswinkel was spesifiek toegespits op die deelname van die onderskeie takbesture aan die GOP-proses en hoe om kommentaar daarop te formuleer en te verfyn. Takbesture gaan op munisipale verordeninge, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP) en die sonering van verskeie oop gebiede fokus.

“AfriForum bied hierdie soort opleiding aan sodat ons takke aktief by GOP-prosesse en die openbare vergaderings wat deur die onderskeie munisipaliteite gehou word, kan betrokke raak. Dit is belangrik dat ons gemeenskappe seggenskap het oor hoe hulpbronne in ons onderskeie dorpe aangewys word,” sê Deon de Jager, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Kaap.

 

Soortgelyke plasings