AfriForum-takke woon GOP-werkswinkel by

 

Verskeie AfriForum-takke het saam op 28 Maart 2018 ’n werkswinkel in Potchefstroom gehou oor deelname aan die hersieningsproses van die takke se onderskeie munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplanne (GOP). Dié werkswinkel is deur Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslikeregeringsake, aangebied.
Die AfriForum-strukture wat deelgeneem het, sluit in: die takke in Klerksdorp, Potchefstroom, Parys, Sasolburg, Frankfort, die Stilfontein-buurtwag en AfriForum Jeug se Pukke-tak. Hierdie werkswinkel was spesifiek toegespits op die deelname van die onderskeie takbesture aan die GOP-proses en hoe om kommentaar daarop te formuleer en te verfyn. Takbesture gaan op munisipale verordeninge, die munisipaliteit se ruimtelike ontwikkelingsplan (ROP) en die sonering van verskeie oop gebiede fokus.

“AfriForum bied hierdie soort opleiding aan sodat ons takke aktief by GOP-prosesse en die openbare vergaderings wat deur die onderskeie munisipaliteite gehou word, betrokke kan raak. Dit is belangrik dat ons gemeenskappe hulle stemme teen swak dienslewering dik maak en dat ons seggenskap het oor hoe hulpbronne in ons onderskeie dorpe aangewys word,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die Sentraalstreek.

Soortgelyke plasings