| |

AFRIFORUM-TAKSTRUKTURE IN PARYS SIT SKOUER AAN DIE WIEL IN MAART

AfriForum se Parys-tak het verskeie projekte in Maart aangepak. Deur die loop van die maand het die tak altesaam 15 sakke teer gebruik om slaggate in Grensstraat op te vul. Dié straat het ’n gevaar vir motoriste ingehou weens die swak toestand daarvan. Die tak het ook saam met die Parys Selfdoengroep gewerk om die plaaslike spruit skoon te maak. Die verskil aan hoe die spruit nou lyk is opmerklik. Boonop het die tak hard gewerk om die plaaslike museum op te knap om sodoende ons erfenis te bewaar.

Die plaaslike buurtwag het ook gewoeker deur gereeld patrollies te hou om sodoende inwoners se veiligheid te verbeter deur misdaad te bekamp en die polisie se oë en ore te wees. Twee buurtwaglede het ’n opleidingskursus in Bloemfontein bygewoon en ploeg nou die kennis terug in die buurtwag.

Pieter Struwig, voorsitter van AfriForum se Parys-tak, sê die samewerking tussen organisasies in die dorp is goed. “Dink net hoe gaan ons berge versit as elke inwoner ’n lid van AfriForum word.”

Volgens Fanie Kruger, leier van AfriForum se Parys-buurtwag, was daar ’n groot toename in huisbrake, asook diefstal van tuingereedskap en asblikke. Die buurtwagpatrollies het ook opgemerk dat daar nog ’n groot hoeveelheid hekke en motorhuisdeure oopstaan ná skemer. “Inwoners moet versigtig wees en liewer hekke en deure gesluit hou. Meld ook die insidente aan en dien ’n saak by die polisie in, selfs al voel dit nie noodsaaklik nie.”

“Dit is belangrik dat elke inwoner van Parys by hierdie inisiatiewe betrokke sal raak. Slegs deur saam te werk sal daar ’n daadwerklike verskil gemaak kan word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak: Skakel Jenny by 082 090 2563.

Soortgelyke plasings