|

AFRIFORUM TEATER: AFRIFORUM SKEP NUWE TUISTE VIR AFRIKAANSE KUNSTE

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n nuwe teater, wat as die AfriForum Teater bekendstaan, geopen op die perseel wat voorheen deur die Brooklyn-teater beset is. Dié 380 sitplek-teater is by die Greenlyn Village-sentrum in Menlopark in Pretoria geleë. ’n Nuwe restaurant genaamd PRONK is ook by die AfriForum Teater geopen.

Volgens die organisasie is die AfriForum Teater onder meer gestig om te verseker dat daar – te midde van die ernstige impak wat die COVID-19-pandemie op die teaterbedryf het – steeds ’n volhoubare tuiste gebied kan word waar die Afrikaanse kunste kan voorbestaan en floreer. ’n Groot verskeidenheid Afrikaanse produksies, kunstenaars en gemeenskap- en skoolkultuurgeleenthede sal in die toekoms by die AfriForum Teater op die planke gebring word.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is die nuutgestigte AfriForum Teater die jongste toevoeging tot AfriForum en die Solidariteit Beweging se selfbestuurplan om sterk gemeenskapsinstellings te skep. Dié instellings het ten doel om ons gemeenskappe selfstandig en onafhanklik van die staat te maak sodat Afrikaans, ons kultuur en nageslag steeds ’n blink toekoms kan hê ten spyte van die agteruitgang wat op vele terreine in die land waarneembaar is. “Net soos wat die Solidariteit Beweging se nuwe Sol-Tech-kampus ’n plek bied waar ons self kan verseker dat Afrikaans sy plek in naskoolse onderrig volstaan, gaan die AfriForum Teater ’n plek bied waar Afrikaanse kunste tot sy reg kan kom,” sê Kriel.

Die teater sal amptelik op 6 en 7 Maart 2021 vir die publiek oopgestel word met die gewilde vertoning Die storie van Afrikaanse musiek deur Pieter Smit en Nagliedjies deur die komponis-pianis Franco Prinsloo. Daar is beperkte kaartjies vir beide vertonings beskikbaar en COVID-19-maatreëls sal streng nagekom word.

Kaartjies vir dié twee vertonings is op die aanlyn platform www.dappermedia.co.za beskikbaar. Belangstellendes kan ook direk by die teater bespreek deur teater@afriforum.co.za te e-pos of die AfriForum Teater-webtuiste by www.afriforumteater.co.za te besoek.

Soortgelyke plasings