|

AFRIFORUM TEATER BAAN DIE WEG VORENTOE IN SY EERSTE 100 DAE

Deur Andrea van Wyk

“Teater is ’n weerspieëling van wat om ons aangaan en baan ook die weg vorentoe. Die AfriForum Teater het in sy eerste 100 dae presies dit reggekry,” sê Margit Meyer-Rödenbeck, ook bekend as Dowwe Dolla, wat een van die eerste akteurs was wat by dié teater opgetree het. “Teater is nie net vermaak nie, alhoewel dit baie belangrik is om mense te vermaak sodat hulle kan ontvlug, maar teater is ’n noodsaaklike deel van die samelewing. Teater stimuleer mense se breine en sintuie.”

Ondanks uitdagings soos die COVID-19-pandemie en beurtkrag het die AfriForum Teater dit steeds vermag om die leë dop van die ou Brooklyn Teater te omskep in ’n moderne saamkomplek vir gemeenskappe om die ware atmosfeer van ’n teater te beleef – en dit met groot name in die bedryf wat reeds hier opgetree het.

“Om in dié tyd ’n teater te begin, is half gek, maar ’n gekke noodsaaklikheid,” sê Meyer-Rödenbeck.

Sy sê die grootste verskil wat die teater tot dusver gemaak het, afgesien van die finansiële inspuiting wat dit vir kunstenaars gee, is die hoop wat dit skep. “Die teater is geskep in ’n moeilike tyd te midde van die COVID-19-pandemie, maar die geloof wat AfriForum in die kunstenaars en uitvoerendekunstegemeenskap van die land toon, moenie onderskat word nie.”

Op die vraag oor wat sy graag in die volgende 100 dae en die jare wat voorlê in die teater wil sien, antwoord sy laggend: “Shows, shows en nog meer shows! Dit is ál wat ek wil sien. En diversiteit. Dat almal – van kabaret tot dans tot komedie tot ernstige drama en mense van alle kleure en kulture – ’n tuiste vind in die teater. Ek weet die teater is daar vir almal.”

Carien Bloem, bestuurder van die AfriForum Teater, sê die eerste 100 dae was ’n warrelwind, maar een wat net goed gedoen het en geen skade aangerig het nie.

Die teater het in Maart vanjaar sy deure oopgemaak en die eerste kaartjies is in April verkoop. In Mei was die teater vir 28 van die maand se 31 dae bespreek vir geleenthede en vertonings. “Ons kon sien dat die teater ’n ongelooflike bydrae tot die plaaslike gemeenskap lewer. Die besprekings stroom net in van skole, organisasies sonder winsoogmerk en kunstenaars.”

Bloem sê die reaksie van die publiek was net so goed soos dié van mense wat die teater wil bespreek om vertonings te hou. Sowat 5 000 mense het die teater in die eerste 100 dae besoek. “Deur die bank word kaartjies verkoop vir meer as 50% van elke vertoning of geleentheid se kapasiteit. Die besetting is elke keer meer as 50% – wat baie goed is.”

Volgens Bloem is sommige van die hoogtepunte wat al op die teater se planke aangebied is Dinge van ’n kind met Cintaine Schutte, Donkie met Frank Opperman (wat weer op 26 en 27 Junie aangebied word), Radio Raps se nuutste vertoning wat uitverkoop het, ’n vertoning deur Joshua na die Reën en ’n uitvoering van Händel se Messias deur die Pretoriase Simfonieorkes.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê hy is hoog in sy noppies met hoe die eerste 100 dae van die teater verloop het. “Kunstenaars gee baie goeie terugvoer, nie net oor die gehalte van die klank en die toerusting nie, maar ook vir die atmosfeer wat daar is en vir die geleentheid vir kunstenaars om op te tree in moeilike tye.”

Kriel sê daar word nou voortgebou sodat wanneer die COVID-regulasies opgehef word, nuwe hoogtes bereik kan word. “Dit was belangrik dat ons nie gaan stilsit het met die COVID-beperkings toe alles agteruit begin gaan het nie. Die tyd om probleme op te los is juis tydens ’n krisis.”

Bloem sê daar lê ’n opwindende tyd vir die teater voor. Lede van die publiek sal onder meer binnekort die geleentheid kry om ’n vriend van die teater te word. Ons moedig die publiek aan om die teater se sosialemediaplatforms dop te hou vir meer inligting hieroor. Diegene wat belangstel om ’n vriend van die teater te word, kan ’n e-pos aan teater@afriforum.co.za stuur of op dié skakel https://bit.ly/3v5jlm5 klik.

Soortgelyke plasings