AfriForum teen Zuma-monument: Protesmonument in Groot Marico opgerig

AfriForum en AfriForum Jeug het vandag ’n simboliese monument met 783 moere vir elke korrupsieklag teen pres. Jacob Zuma by Groot Marico in Noordwes opgerig.

Dit volg nadat die provinsiale regering van Noordwes onlangs begin het met bouwerk aan ’n monument vir Zuma wat sowat R1,7 miljoen gaan kos.
AfriForum het in Mei en Junie vanjaar – ná die aankondiging dat ’n groter beeld van 6 meter hoog ter waarde van R6 miljoen opgerig gaan word – twee afsonderlike PAIA-aansoeke ingedien om sekere inligting oor die oprigting van dié beeld te bekom.
Die Noordwes-regering het op die kleiner monument besluit ná weerstand van opposisiepartye en die gemeenskap.
Vandag se aktivistiese aksie is egter kortgeknip nadat omstanders kort ná die oprigting van die simboliese monument gedreig het om die AfriForum- en AfriForum Jeug-afvaardiging aan te rand en hul toerusting te breek. Die plakkate en banier wat deel van dié monument vorm, is daarna deur omstanders verbrand.

“Dit is hartseer om te sien dat politici die gemeenskap só kan beïnvloed om oproerig te raak. Groot Marico is vervalle en die gemeenskap besef nie dat daardie geld eerder gebruik kon word om infrastruktuur op te gradeer of om die informele nedersetting van basiese dienste te voorsien nie,” sê Tiaan Oosthuizen, AfriForum se Noordwes-distrikskoördineerder.
Oosthuizen sê dat hulle die dorp weens dreigemente en gewelddadige optrede vinnig moes verlaat. “Dié was bloot aktivisme om ons ongelukkigheid oor te dra, maar dit het vinnig in ’n rassekwessie ontaard. Ons sal nooit die oprigting van hierdie monument goedkeur nie,” sluit hy af.

 

Soortgelyke plasings