AfriForum-teenboelieveldtog besoek die Laerskool Helderkruin en doen leierskapsontwikkeling in samewerking met HeyLead


Die burgerregtewaghond AfriForum het op 8 en 9 Februarie besoek aan die Laerskool Helderkruin in Roodepoort afgelê as deel van dié burgerregte-organisasie se teenboelieveldtog en leierskapsontwikkelingskamp wat in samewerking met HeyLead aangebied word.
Dié teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Dit is ook vir ons goed om te sien dat die Laerskool Helderkruin ’n boelieraad het wat help om die probleem aan te pak en terselfdertyd leierskap onder leerders te ontwikkel,” sê Leandie Lombaard, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

As deel hiervan werk AfriForum saam met Manie Botha van HeyLead om ’n leierskapsontwikkelingskamp by die skool aan te bied. Alle Graad 7-leerders is na die kamp genooi om aan hul leierseienskappe te skaaf.

“By die Laerskool Helderkruin word alle Graad 7’s as leiers verkies waarna hulle in verskeie taakrade verdeel word sodat hul leierseienskappe reeds op ’n jong ouderdom ontwikkel word. Die skool se verskillende taakrade is die sportraad, gemeenskapsraad, sosiale raad, kultuurraad, kleuterraad, geboue- en terreinraad, mediaraad, boelieraad, rekenaarraad, akademieraad, dienspuntraad en padpatrollie,” verduidelik Jacques Breet, hoof van opvoedkundige leiding by die Laerskool Helderkruin.
“Ek glo dat dit uiters noodsaaklik is om in die jongmense van vandag te belê deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook met dié van môre. Dit bly ’n voorreg om saam met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat in die opheffing en uitbouing van ons jong leiers,” sê Manie Botha van HeyLead.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings