|

AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Brits

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 28 Februarie by die Laerskool Brits besoek afgelê.

Hierdie veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap ­- nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die leerders is ook meer ingelig oor die gevare van kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Boeliegedrag en klagtes oor boelievoorvalle het geweldig toegeneem oor die laaste paar jaar. Dit kan wees omdat die samelewing verander het en dat die konsep van boelie ook verkeerd verstaan word. In die verlede is dit as blote stoutigheid beskou as twee seuns in ’n vuisgeveg betrokke sou raak, maar vandag word dit as boeliegedrag beskryf. Die vrae wat ons moet vra is: Wat is boeliegedrag regtig? Wat veroorsaak dit en wat is die misverstand? Wanneer is ’n grap net ’n grap en wanneer is dit boeliegedrag? Hoe kweek ’n mens gesonde verhoudinge? Dankie aan AfriForum wat hierdie duidelikheid vir ons leerders geskep het gedurende hul aanbieding,” sê Jan-Louis Lee, beheerliggaamslid vir geestesgesondheid en berading by die Laerskool Brits.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings