AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Kenmare


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het in November 2018 by Laerskool Kenmare in Krugersdorp besoek gaan aflê. Dié veldtog skep bewustheid oor afknouery in skole.

“AfriForum wil met sy teenboelieprojek saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole hok te slaan en die betrokke partye met die nodige kennis toe te rus om dit reg te kry. Tydens ons besoek verduidelik ons aan leerders wat die verskil tussen afknouery en konflik is omdat baie leerders hierdie twee konsepte met mekaar verwar. Dit is belangrik dat leerders weet dat afknouery iets is wat op ’n herhalende, deurlopende wyse plaasvind en dat dit opsetlike gedrag is. Ons wil leerders aanmoedig om ander te behandel soos hulle sélf behandel wil word, om hul eie identiteit te koester en om so ook wedersydse respek teenoor ander se identiteit te toon. Ons praatjie fokus dus nie net op die slagoffers van afknouery nie, maar ook op die afknouer en die omstanders wat betrokke is. Ons bewusmakingsvideo leer leerders meer van die verskillende vorme van afknouery, waaronder fisieke, emosionele, verbale en kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Bewusmaking van afknouery is om twee redes belangrik: Eerstens om kinders te leer om te kan onderskei tussen regte en verkeerde optrede, en tweedens om die afknoukringloop te verbreek. Ons moet die keuse maak om te sê dit stop by ons, sodat dit beter word vir ons kinders en hul kinders,” sê Pieter van Zyl van School of Life.
“Laerskool Muldersdrif poog om leerders bewus te maak van wat afknouery werklik beteken en moedig hulle aan om nie stil te bly nie. Ons is dankbaar dat AfriForum se teenboelieveldtog by ons skool aangebied word en waardeer hulle bereidwilligheid om saam met ons teen hierdie onaanvaarbare gedrag te veg,” sê Berné Grobler, ’n onderwyseres by die Laerskool Kenmare.

AfriForum se teenboeliegids bevat raad aan ouers, onderwysers en leerders. Dit bevat ook regsadvies wat deur Daniël Eloff van Hurter Spies geskryf is, asook die verhale van bekendes wat ook afgeknou is, soos Donnalee Roberts, Ivan Botha en Chris Chameleon. Die gids bevat ook aktiwiteite wat kinders meer bewus maak van wat afknouery werklik is.
Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by dié veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings