AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Kenmare


AfriForum het in April 2018 Laerskool Kenmare in Roodepoort as deel van die burgerregte-organisasie se teenboelieveldtog besoek. Dié teenboelieveldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die kennis om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.

AfriForum het tydens Laerskool Kenmare se teenboelieweek in samewerking met Manie Botha van die HeyLei-program praatjies vir onderwysers aangebied. Leerders kon aktief deelneem deur belangrike waardes uit te beeld: Hulle kon tydens die teenboelieweek groen dra teen jaloesie, geel vir leef-en-laat-leef, rooi vir liefde en medemenslikheid, wit vir vrede en om vloekery teen te staan, en blou teen fisieke afknouery.

“Laerskool Kenmare is ’n waardegedrewe skool. Ons sewe waardes help kinders om slim besluite te neem gedurende pouses, in die klas en oral waar hulle met mense te doen kry. Ons leef met respek, dissipline en eerlikheid; ons skep hoop, gee om vir ander, leef gesond en tree lojaal op,” verduidelik Wouter Immelman, hoof van Laerskool Kenmare.
“Ek glo dit is uiters noodsaaklik om deur middel van opleiding, rigtinggewing en ondersteuning in jongmense te belê. Sodoende help ons nie net met die opheffing van vandag se leiers nie, maar ook dié van môre. Dit bly ’n voorreg om saam met ouers, onderwysers en die gemeenskap hande te vat om afknouery in skole hok te slaan,” sê Manie Botha van HeyLei.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za indien jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkelingsprogram betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings