AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Môrewag


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 20 Augustus 2018 besoek by die Laerskool Môrewag in Brakpan afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies met leerders, onderwysers en ouers saamwerk om afknouery in skole stop te sit en betrokke partye met die kennis toe te rus om dít te kan doen,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Môrewag is ’n uitstekende skool waar elke leerder hulself kan uitleef en tot hul volle potensiaal kan ontwikkel binne ’n veilige omgewing en onder die wakende oog van opvoeders wat opreg omgee vir elke leerder. Respek en die regte van leerders is as skoolhoof en opvoedkundiges by hierdie skool vir ons van kardinale belang. Leerders behoort elke dag te lag en, met trots gevul, gelukkig hul skooldag te geniet omdat daar leiding gegee word deur ’n deeglik voorbereide opvoederskorps wat ’n veilige ruimte vir leerders en opvoeders skep. Ons werk dus hard om afknouery hok te slaan,” sê Elna Venter, hoof van die Laerskool Môrewag.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings