AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Roodekrans


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 21 Mei 2018 by die Laerskool Roodekrans in Roodepoort besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole stop te sit en betrokke partye met die kennis toerus om dít te doen,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Roodies is ’n waardegedrewe skool wat daarna streef om afknouery heeltemal uit te wis. Ons fokus op vyf spesifieke waardes, naamlik verantwoordelikheid, omgee vir ander, eerlikheid, integriteit en respek. Dit is ook vir ons belangrik dat leerders die verskil tussen afknouery en gesonde konflikhantering moet weet en verstaan. Die skool beplan om elke kwartaal sprekers te kry om, in samewerking met AfriForum, bewustheid oor afknouery onder ons leerders en onderwysers te skep,” sê Deon Rousseau, hoof van Laerskool Roodekrans.

Stuur ’n e-pos na boelie@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings