AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Roodekrans


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 15 Oktober 2018 by Laerskool Roodekrans in Roodepoort besoek afgelê tydens dié skool se boelie­bewusmakingsweek. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“AfriForum wil met sy teenboeliepraatjies saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole stop te sit en die betrokke partye met die kennis toe te rus om dít te doen. Tydens ons besoek het ons aan elke onderwyser ’n AfriForum-teenboeliegids gegee wat raad bevat oor afknouery en op leerders, ouers en onderwysers gerig is. Die gids bevat ook inligting deur Daniel Eloff, regskenner by Hurter Spies Ingelyf, ten opsigte van boeliegedrag,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Roodies is ’n waardegedrewe skool wat daarna streef om afknouery heeltemal uit te wis en ons fokus op vyf spesifieke waardes, naamlik: verantwoordelikheid, omgee vir ander, eerlikheid, integriteit en respek. Dit is ook vir ons belangrik dat ons leerders die verskil tussen afknouery en gesonde konflikhantering moet ken en verstaan. Ons het vanjaar elke kwartaal sprekers gekry om in samewerking met AfriForum bewustheid oor afknouery onder ons leerders en onderwysers te skep,” sê Deon Rousseau, hoof van Laerskool Roodekrans.
“Bewusmaking teen boelies is om twee redes belangrik: Eerstens om kinders te leer om te kan onderskei tussen regte en verkeerde optrede, en tweedens om die kringloop van boelies te stop. Ons moet die keuse maak om te sê dit stop by ons, sodat dit beter word vir ons kinders en hulle kinders,” sê Pieter van Zyl van School of Life.

Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.
 

Soortgelyke plasings