AfriForum-teenboelieveldtog besoek Laerskool Skuilkrans


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het in November by die Laerskool Skuilkrans in Pretoria-Oos besoek afgelê. Dié veldtog skep bewustheid oor afknouery in skole.

“AfriForum wil met sy teenboelieprojek saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole hok te slaan en die betrokke partye met die nodige kennis toe te rus om dit reg te kry. Tydens ons besoek verduidelik ons aan leerders wat die verskil tussen afknouery en konflik is, omdat baie leerders hierdie twee konsepte met mekaar verwar. Dit is belangrik dat leerders weet dat afknouery iets is wat op ’n herhalende, deurlopende wyse plaasvind en dat dit opsetlike gedrag is. Ons wil leerders aanmoedig om ander te behandel soos hulle sélf behandel wil word, om hul eie identiteit te koester en om so ook wedersydse respek teenoor ander se identiteit te toon. Ons praatjie fokus dus nie net op die slagoffers van afknouery nie, maar ook op die afknouer en die omstanders wat betrokke is. Ons bewusmakingsvideo leer leerders meer van die verskillende vorme van afknouery, waaronder fisiese-, emosionele-, verbale- en kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“By Skuilkrans kom die belange van die kind eerste en ons glo dit wat kinders in liefde leer, vergeet hulle nooit nie. By Laerskool Skuilkrans streef en glo ons in:

S – Saamstaan maak wenners
K – Karakterbou
U – Uitnemendheid
I – Inspirasie vir ander
L – Lojaliteit
K – Konsekwentheid
R – Respek
A – Aanvaarding
N – Navolgenswaardige voorbeeld
S – Sy (Jesus se) Woord

Dit is dus vir ons belangrik om bewusmaking van afknouery in ons skool te skep sodat hulle toegerus is en weet hoe om boeliesituasies te hanteer,” sê Wilanda Marais, ’n onderwyseres by Laerskool Skuilkrans.

AfriForum se teenboeliegids bevat raad aan ouers, onderwysers en leerders. Dit bevat ook regsadvies wat deur Daniël Eloff van Hurter Spies geskryf is, asook die verhale van bekendes wat ook afgeknou is, soos Donnalee Roberts, Ivan Botha en Chris Chameleon. Die gids bevat ook aktiwiteite wat leerders meer bewus maak van wat afknouery werklik is.
Stuur ’n e-pos aan leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by dié veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.
• Klik hier vir die bewusmakingsvideo: https://www.youtube.com/watch?v=S1lld_ptiP4.
• Klik hier vir die skakel na die Teenboeliegids: https://afriforum.co.za/wp-content/uploads/Teenboeliegids_Digital.pdf.

Soortgelyke plasings