AfriForum-teenboelieveldtog besoek Pro-Practicum Skool


Die burgerregte-organisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 11 Oktober 2018 by die Pro-Practicum skool in Krugersdorp besoek gaan aflê. Dié veldtog skep bewustheid oor afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders, onderwysers en ouers in.

“AfriForum wil met sy teenboelieprojek saam met leerders, onderwysers en ouers werk om afknouery in skole hok te slaan en die betrokke partye met die kennis toe te rus om dit reg te kry. Tydens ons besoek het ons aan elke onderwyser ’n AfriForum-teenboeliegids gegee wat raad oor afknouery bevat en gerig is op leerders, ouers en onderwysers. Die gids bevat ook inligting oor boeliegedrag deur die regskenner Daniel Eloff van Hurter Spies Ingelyf ,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se koördineerder vir leierskapsontwikkeling.
“Een van ons skool se grootste uitdagings is leerders wat mekaar boelie. Armoede dra ook tot gedragsprobleme onder die kinders by. Die ontbreking van emosionele volwassenheid en basiese normes en waardes dra ook tot afknouery by. Dit is vir ons as onderwyserkorps dus belangrik om bewustheid van afknouery onder leerders te skep,” sê Karen Mackenzie, maatskaplike werker by Pro-Practicum Skool.

Stuur ’n e-pos na leandie.brasler@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog en leierskapsontwikkeling betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings