|

AfriForum-teenboelieveldtogspan besoek La Montagne Primary School

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 11 Maart by die La Montagne Primary School in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik. Die doel van hierdie praatjie is om leerders te bemagtig. Leerders is ook met meer inligting toegerus oor die gevare rondom kuberafknouery,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

“Dit is belangrik om bewustheid van afknouery te skep, want kinders moet dit kan herken en weet hoe om boelies te hanteer. Hulle gaan boelies nie net by die skool teëkom nie, maar ook eendag in die werkplek. Nie net die slagoffer benodig hulp nie, maar ook die boelie en as opvoeders kan ons nie die kwessie ignoreer nie. Bewusmaking van boeliegedrag bemagtig kinders met inliging,” sê Anita Pillay, hoof van die La Montagne Primary School.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings